Wat gaan aan?

Teen die tyd weet almal dienslewering en werktrots is nie meer ‘n prioriteit vir almal nie. ‘n Week gelede het ons ‘n yskas mechanic gebel en gevra om na ons yskas te kom kyk. Die vriesgedeelte werk nog heel goed dog die koelkas gedeelte werk blykbaar net met rukke en stote. Hoe meer dae, hoe minder het dit gewerk. Almal het belowe “Indien nie vandag nie,dan more oggend vroeg.

So het more vroeg nou al ‘n paar keer gekom en ons het al ander tegnikuste gebel met dieselfde leë belofte. Julle sal nie glo nie, een het teruggebel om ‘n kollega se kontak nommer te gee, weer met dieselfde resultate.

Wel, vanoggend vroeg het een geskakel wou weet of daar iemand tuis is. Eers is ek lus om te sê “4k of.” Maar ek sê “ja.” net so ‘n effe na 8 daag hy toe op. Gaan deur die yskas, trek dit van die muur af en druk hier en karring daar en sit sy metertjie hier en daar en sê toe die gas het na sy mening ‘n bubble in en gaan soveel kos om uit te suig en nuwe gas te hervul. Nou ja, ek sê toe maar ja. Nou ja hy het nog hier en daar gekarring en verklaar toe die yskas gaan nou weer vir baie jare goed werk. Uit pluk hy toe, nee, nie ‘n staat of kwitansie boek nie, maar een enkele staat, wat hy invul en ek btaal.

Arrie gedorie, twee ure later bel ‘n persoon toe om te sê sy tegnikus is oppad om my yskas te kom herstel. Ek sê maar hy was klaar hier en hy sê nee die tegnikus is nog oppad. toe begin die enkel bladsy staat som maak. Maar my yskas is right on track en die mense het ‘n week kans gehad om op te daag. toe lieg ek maar baie blatant en sê “Ag toemaar, my man het dit reeds herstel. Geen dank aan jou nie.”

Gedagte van die dag; Is daar nog mense vir wie hulle woord hulle eer is?

November 23, 2021 at 12:42 nm 5 Kommentaar

Joune, myne en ons s’n.

Ek brei of hekel mos voor die tv. Kan dit nie uit my kop doen nie. In elk geval, deesdae is daar mos elke dag ‘n kos program of drie nodig om ‘n uitsending te kan hê.

So sit en kyk ek maar so brei-brei of hekel-hekel. Dan kom die kos programme op asof daar geen fiksie is om tussen 19:00 en 20:00 ons siele mee te versondig nie. Maar nou ja, ek sal altyd sit en kyk want waar gaan ek dan brei of hekel sou ek opstaan?

Kyk, een ding val my altyd op. Die aspirant kok of bakker se noem van die bestanddele. Hoekom kan hulle nie bloot praat van die meel, die suiker, die eiers die botter nie? Daar is sommiges wat praat van “ons suiker, ons meel” ander weer ” jou bakpoeier, jou pan,” nog ander ” ons uie, ons wortels” terwyl ander weer alles ” julle sn” maak.

Ek glo nie ek het al gehoor dat die kok ooit praat van DIE bestanddele nie. Laat my nogal nou wonder is dit eie gewoonte of hulle aangesê wat om te sê. Wat dink julle?

Gedagte van die dag: Is dit ander man se goed wat my so pla?

Augustus 18, 2021 at 1:39 nm 5 Kommentaar

Brei

Wil ek alreeds lag, want dis nou nie brei nie, maar wel hekel.

Ek het die dag by die dansklas gekom en daar was ‘n vreemde jong dame. Sy is aan ons voorgestel en het saam gedans dit duidelik baie geniet, maar nooit weer teruggekom nie. ‘n Paar weke kom ek die dag by die haarkapper en onderwyl sy my hare was vra sy “Wil Tannie ons nie help hekel nie?” Ek ky agteroor na haar en vra “Wat hekel ons?”

Sy vertel toe van die evangelis wat hier werk en ‘n uitreik doen. Aan die bywoners ( As my woordkeuse aanstoot neem, vra ek vreeslik om verskoning. Deelnemers klink dan nou vir my asof hulle deel is van die uitreikprogram. So ek gebruik bywoners. Gehoor wil ook nie regklink nie.) deel sy dan ‘n hoedjie, wat sy ” Your cap of salvation” noem, uit. Blyk toe sy gaan by ‘n skool praat en het hoedjies nodig vir die leerlinge. Nadat my hare klaar gedoen was, neem die haarkapster my na die dame. Slaat my plat met ‘n droë hersblaar. Daar is dit die jong dametjie wat die eenkeer by die dansklas opgedaag het. Ewentwel, ek het toe tuisgekom met ‘n pak wol want ek was gevra om net vyf hoedjies te hekel. Die vyf skoolhoedjies het by veertien gestop.

Toe kom die sak gekleurde wol. Sommige vol bolle, ander reste van vorige projekte en ‘n patroon vir die uitreik beanies. Wel, dis nou twee maande later en my vyg hoedjies trek nou al so raak raak aan die sestig. ‘n Paar van die getal, was vir my eie doeleindes, met my eie wol gehekel.

Nou het ek gehoor ek gaan Oumoek-grootjie word. So na elke paar hoedjies, stop ek gou en hekel nog ‘n skapie. Want kleinman se kamer gaan ‘n skapie kamer wees.

Julie 30, 2021 at 1:41 nm 13 Kommentaar

Diere maniere

Ek glo diere kan met mekaar kommunikeer. Self met ander spesies. Jy hoef nie eers baie nou met diere saam te lewe om dit agter te kom nie.

Ek onthou toe ek die eerste keer met Bessie by Ousus se huis aangekom het. Sy het uit die Fordjie gespring en dadelik hoek toe gehardloop. Toe het sy begin snork en keel skraap en my geroep. In die hoek gekom, het ek die takke van die welige struik wat daar groei weggetrek en jou waarlik, daar lê die twee skilpaaie. Toe ek nou die skilpaaie gesien het, het sy geloop en eers die toilet en toe die water gaan opsoek.

Ander keer het ons by mense op ‘n plaas gaan kuier. Hulle het my verseker Bessie kan saamkom. Hulle honde sal nie met haar baklei nie. Daar gekom, het die honde nader gekom, hulle het gesnuffel en sy het dit toegelaat. Toe een van hulle begin knor het sy weer keel skoongemaak en dit was verby. Sy het verder nie met hulle gemeng nie. O0 ‘n besigtinging stappie, het ons die hanslammers se kamp genader. Die plaashonde en kinders het gehardloop en die lammers, honde en kinders het heerlik saam teen die draad gekuier. Toe Bessie egter agter die krib uitkom, het daardie lammers vasgetrap en al blerrend die aftog geblaas, Dit het die plaasboer laat wonder of hulle dan nou vir Bessie vir ‘n leeu aangesien het.

Dikwels as ons in die bos gaan stap het, sou ou Blaffer begin pronk het. Dan skielik sou daar ‘n opening in die bosse wees en ons sou ‘n wildsbok van die een of ander soort sien. So vêr weg, dat die bokke hulle nie eers verwerdig het om op vlug te slaan nie. Ek dink ou Lapman was altyd net te gereed om pret te hê om ooit na hulle te luister. Dan het daar misverstande ontstaan en die ander diere het op vluggeslaan of aggresief gereageer. Die meeste bakleiery was maar gewoonlik wanneer hy vir Blaffer aangeval het. Ek het later geleer om net weg te stap. Dan het hy niks gehad om te “verdedig” nie en sy agressie teenoor Blaffer het getaan.

Was dit maar so maklik vir mense ook om te kommunikeer. Maar wil soms lyk of nes in Lapman se geval , die intelligensie ontbreek om te verstaan wat gesê word.

Gedagte van die dag: Laat ek liewer nog ‘n ry brei.

Julie 25, 2021 at 1:39 nm 5 Kommentaar

SO lekker

Dis mos alweer sulke tyd. Oogtoets tyd en nuwe brille. So stap ek en Homer van oogkundige na oogkundige om pryse te vergelyk. Ons maak toe ons keuse. Ek weet van mense wat baie tevrede was met die einste oogkunige ketting wat ons keuse die keer op geval het.

Daar hoor ons boonop dat ons sommer dadelik getoets kan word. So kom ons twee weke later weer in Nelspruit en Homer sê, “Man ons is nou hier, kom ons gaan hoor of die brille al reg is. Daar gekom en ja wrintie waar die nuwe brille is reg. Nou ja, syne was, myne is ‘n ander storie. Lang storie kort, Saterdag lui my foon, dis die oogkundige, my nuwe bril is terug. Daar gaan ons toe eers weer op ‘n shopping spree. Die keer bly die grond voor my darem plat en alles om my voete is nie konkaaf nie. Ek kan sommer self op die roltrap klim ook. Maar nou ja, toe is Homer natuurlik honger.

Maar nou het ontbyt tyd al omgegaan en dis tyd vir ‘n nie so vroeg middagete. Kom by die “Roadhouse” en die kelner vertel ons so met die neersit van die spyskaart dat hulle ‘n lekker nca middagete special het. Goed se Homer, bring it on. Kyk, het ons nou lekker geeet en nie ‘n skrapse bord kos nie hoor. Ek het gesukkel om dit weg te sit. Die kelner kom vra toe of ons die nagereg wil huis toe neem. Nagereg? Nee ons wil nie nagereg hê nie beduie ons voort. Maar dis glo deel van die special.

https://mail-attachment.googleusercontent.com/attachment/u/0/?view=att&th=17a06df458fb819e&attid=0.1&disp=inline&realattid=17a06deeedf7ac014d41&safe=1&zw&saddbat=ANGjdJ8OeA_bPKX1p4x3gJHy8Ak2InFRIngz3ZtQ8b1CJa6jm7CVGc_ZwVfu9aEB1U6DeUfKWEAkp9Xgo8HBBwAQA1uLCGXwJ1Afy72cfuZ1tQZ99WyIUWzqzHFHR29S8g2mBAD1yI_zNMPyZ6JcAiZjvXK_Lphw4-JMkwbIQZihwLnD8PGeB6zMty0mCa3vvivEtDx3-I0DIXOi3b8kEqwe5vMDte9zHn75vqxwGtW4AhIqnQob5zLiIwEuAwbgITiBr0FXKYdq0dwwJfCaSmWjrz33U9KbWdZ3PlysEvrZHCP7R_DI_54XVWBAQlUCQX5aMwAwpIuUHmpDgM6gBI0HeqjhJxIjtmGXm0yT32U3PN6TNQo23_i9EkI9HxpRBvSVMsTBmiX4-dmKm_KK_cYoc5uhlOvbfDlsqqUl3CrszXD6Hom-NKQ4zznlVmaWW3axuq6ecoocADHz_ZcBSKZLPeehlT0_-q54vyegEbtYqrSrigcnX2MX9bc0jFQCHC5vG6XYGuHfITVvFlS3EjK5VCCMwchGg1rBcIcVaTUtoEK9m87GzuBeu7ZvDogAHrIVypvo_YrebKQn-BpvgaIY1cLlb3dxS3VVw1zXVLk7oIo8vL56ImlscQqvuN1ao9YIY8BNo7r_OaQS4BWjI6C6tQETqXdF_Ee15spf9ALtqAJ5M1m0B4kv3QW165A

Nou ja, die is ‘n roadhouse met ‘n verskil. Jy kan in jou voertuig sit en eet, daar is wel mense wat dit doen. Jy kan by ‘n tafel gaan sit of jy kan laat aflewer.

Gedagte van die dag: Die plek sal my kan laat trek.

Junie 13, 2021 at 9:46 nm Lewer kommentaar

Verander, verander, verander

Ai tog, oudword is nie vir sissies nie. Alles verander sommer so reg voor my oge. Ek verpes verandering. Tog is daar voortdurend ‘n ding wat verander. Telkens as ek probeer blog, kom ek agter iets het alweer verander. Dan sal ek dink ek gaan die merrie se hulp inroep. Maar nou ja, dan vergeet ek gerieflikheidshalwe wat ek wou doen.

So gaan die maande verby en ek vergeet wat ek wou deel of oor kerm. Maar nou ja, uiteindelik het ek met die Merrie gekonfedereer. Natuurlik het ek om en by ‘n jaar laas iets van haar op haar blog gesien. Maar kan julle glo? sy seg maak so, maak so sit dit in en laat na om dat te doen en siedaar. Hier is ek weer voor blogland se deur.

Maar weet julle wat? Ek het nou klaar weer vergeet wat ek wou seg. Net weer met Grieters konfedereer om die character map uit te sorteer. Ek is nog ouskool. Maar nie ouskool genoeg om te oge en seg nie. Maar moet nou noodgedwonge want se en oe gaan ook nie vir my werk nie.

Gedagte van die dag:Bly veilig. Bly gesond.

Junie 1, 2021 at 2:54 nm 5 Kommentaar

Bly besig

Vandat die inperking begin het, lees mens mos maar oral hoe belangrik dit is om te oefen om darem jou liggaam ‘n “fighting” kans te gee. Toe die inperking gedurende Mei 2020 weer so ‘n effe gelig was en mens darem weer die strate kon in om te stap of draf het ‘n kennis my gekontak. “Sien jy kans om te gaan stap?” Wel, dit was die eerste keer dat ek toe nou voor die uitdaging van die masker te staan gekom het.

Maar nou ja? Kan ‘n vis swem? Daar tree ons toe uit. Solank ons voor 9am tuis was. Nee, ons het nie op pensioen (uittree) gegaan nie. Maar ons het begin stap. Ek het die maande van stage 5 en 4 maar maar my orbitrek weer nader gesleep en afgestof. Elke paar weke moes Homer die ketting verstel. Ek glo nie dit outjie het meer baie dae oor nie. Dit het al lank en baie hard gewerk, sien. Ewentwel, masker oor die gesig val ons toe weg. Nie eers tien treë nie, toe weet ek, dis of ek kan sien waar ek loop of ek moet maar los. Die Orbitrek vra nie ‘n masker nie. Pluk toe die masker weg, vou dit onder my ken in. Sover kom ek nog weg daarmee. As daar mense aankom, pluk ek dit gou op oor my mond en neus en haal maar die bril af. Maar die mens is mos ‘n fickle ding op sy beste.

Nog nie twee maande later nie toe kom die verskonings. Elke dag. was daar ‘n ander rede hoekom sy nie kon stap nie. Toe kom ‘n ander kennis hier aan vir ‘n beskuit resep. Vertel my sy hoor ek stap alleen en julle weet mos al die 104 verskonings hoekom sy nie soggens kan stap nie. Vertel my toe sy gaan maar eerder dansklasse toe. Nou ja, die niggietjie wie ek bedags opgepas het, se ouma weer in die land toegelaat was, besluit Olga dis nou of nooit. Daar sit sy af, na die saal waar die dansery plaasvind. Groot was my verligting toe ek sien die jeug dans in ‘n ander klas. Maar ek moet julle sê, maklik was dit in elk geval nie. Dis meestal eenvoudige bewegings, maar….. olga het mos nie “Twinkle toes” nie.

Tog, later het dit beter begin gaan en nou geniet ek dit.

Gedagte van die dag: Nog net die regte tipe outfit kry. 😉

Januarie 18, 2021 at 12:56 nm 11 Kommentaar

Hier’s ek weer…

Dagsê. Hiers ek weer. Die keer vir eers net om almal alle voorspoed, sëen en heil vir 2021 toe te wens. Mag ons almal skuiling teen die virus kry deur die genade van Jesus Christus.

Gedagte van die dag: Sterkte aan almal.

Januarie 15, 2021 at 2:29 nm 8 Kommentaar

Saterdag sport.

Huidiglik word gedeeltes van ons “hoofpad” oorgedoen.  Dus is alles chaoties in die dorp. Ons spesifieke blok is duidelik gemerk “Residents only.” Maar skielik is dit asof dit ‘n uitdaging is vir elke trok, (minibus) taxi en elke ander bliksem wat reken hy het ‘n vinnige kar, om in hierdie blok op en af te brul.  Natuurlik tot groot ontsteltenis van die inwoners.

Van die bure het al die verkeersafdeling geskakel om die kwessie onder hulle aandag te bring.  Man, hulle reageer eenvoudig deur die telefoon dood te druk.  4kers.

Ewentwel, Saterdag agtermiddag bespreek ons die einste saak, nes met die buurman vroeër die middag.  Nes die buurman merk die gas op dat ons met die verkeersowerhede moet praat oor die gejagery.  Die volgende oomblik hoor ons net bande skree en toe die slag.  Almal peul by die hekke uit.  Natuurlik is daar ‘n VW met die kapokhaantjie wat op die bestuurder van die ander voertuig skree.  Ons stap nader, nie een van hulle is inwoners van die blok nie.  Die inwoners van die volgende blok kom nader gestap en hy wys die bestuurder van die VW daarop dat hy ‘n toegee teken verontagsaam het.

Maar nou kan ons in albei voertuie sien.  Albei passesiers hou twee bottels bier vas.  In die VW sit kinders, man beswaarlik ouer as kleuters groot oog die gebeure en geskreeury en gade slaan.  Dadelik wil die ander bestuurder die VW bestuurder aantree.  Maar die skree “Which fucking Yield?” Almal toe na waar die teken moet staan.  In die ses jaar dat ons hier woon, was daar nooit ‘n teken wat die toegee teken aandui nie.  As hulle inwoners van die blok was, sou hulle geweet het dat die toegee teken net afwesig was. 

Maar toe herinner die ander inwoner hulle dat hulle albei onder die invloed was.  What do you know.  Ter gelyke tyd kom dit uit twee monde “Your damage is your damage and my damage is my damage.” Terug in hulle onderskeie voertuie, een met GP en ander met Limpopo registrasie en daar gaan hulle, maar nie voordat hulle hulle kele weer natgelei het nie.

Nou sal ek graag wil weet, hoeveel mense gaan hulle lewens verloor oor gekke soos die?  Jy kan maar oor ‘n naweek ry, net na die buurdorp, 29 km verder sal jy by minstens drie “Roadside parties” verby ry. Hoekom word daar nie teen hulle opgetree nie?  Seker omdat wetstoepassers die telefone dood druk as enige iets wat na werk klink aan hulle gerapporteer word.

Gedagte van die dag: Waar is daar nog werkstrots oor?

November 1, 2020 at 2:48 nm 4 Kommentaar

Wat de…..

Ek kom by niemand.  Veral nie in die afsonderingstydperk nie.  Daarom het ek nie veel te sê nie.  Wil sommige dae lyk of ek op dinge wat my nie eintlik raak nie fikseer.

Ek het die afgelope paar weke gesukkel met ‘n verdomde gom oor.  Toe dit wragtig aanhou “produseer” het ek geweet, al wil ek nie, is dit nou tyd om dr toe te gaan.  In die tyd, dink ek, plekke soos dokterspreekkamers, klinieke, hospitale en selfs apteke is goeie plekke om soos die pes te vermy.  Jy kry buitendien net diek mense daar. Ek het begin agterkom dat my gehoor beslis versleg.  Die ou nat oor was sedert kinderdae my “goeie” oor.  Ek sou regtig moet optree as ek nog op my eie wou hoor.

Kom by die dr.  Aarde mense in sy voortuin by die spreekkamer is ‘n gazebo opgerig, met ‘n paar stoele daaronder.  Ek lui dus die klokkie en wag soos die bord aanbeveel totdat iemand my kom help.  Hoor ‘n geluid en die kind wat ek oppas vertel my daar is iemand agter my.  Die ontvangsdame wat wil bevestig dat ek daar is om ‘n afspraak na te kom.

Word aangesê om te sit.  teen die tyd vertel innerlike Olga al vir my ons moet eerder huis toe gaan.  Maar die nat gevoel en dik stadige stroompie toe uit my oor oortuig my om te bly.  Die kind en ek staan en bekyk die ou baba akkedissie wat ‘n ewe baba sprinkaan bekruip.  Maar hy was regtig nie opgewasse nie.

Toe hoor ek iemand praat.  Moet wragtig omkyk sodat ek kan hoor wat gesê word.  Die Dr.  Hy sê “Skuus man, maar ek moes nou eers gaan seker maak. Weet jy, die afgelope dekade kom sien jy my elke tweede jaar.” Ewentwel, hy probeer nes die meeste volwasse mense die kind tot ‘n gesprek uitlok.  Ook sonder sukses.  Maar sy weet, ek neem nie meer haar onbeskofheid vir lief nie.  So sy staan en tel.  Gou besef sy sy sal sewe bladsye met 25 lyne elk moet uitskryf as ons tuis kom en sy antwoord hom baie bot.

Tuis gekom met antibiotika en antie alles oordruppels, ( touch wood, wat beslis werk) stop my jare lange vriendinne omtrent agter my.  “Wat de … het jy by die dr gaan maak?” Goeie genade!  Het ek hulle toestemming nodig om dr toe te gaan?  Die ander een sê egter op verskonende wyse “Jy weet mos, dr weetalles sou jou beter kon help.” Maar ek word al jare lank al nie meer kwaad vir die vrou se beterweterigheid nie.”

Laat my egter wonder, is ons regtig so afgestomp dat ‘n vriendin se dokters besoek jou besigheid word? Dink sy regtig dat sy beter as die dokter weet hoe om ‘n mediese probleem op te los?

Sy is tot datum ‘n beter bakker, kok, verwer, bouer, kleremaakster, breier, hekelaar, (laat ek gou noem ek het nog nooit iets gesien wat sy gebrei of gehekel het nie.) boekhouer, ontvangsdame of huis skoonmaker as enige iemand anders ooit kan hoop om te wees.  Nou is sy ‘n beter dokter, al is dit sonder opleiding ook.

Wat meer kan ‘n mens in ‘n vriendin nodig hê?

Gedagte van die dag: Seker net my reg tot vrye keuse.

Augustus 29, 2020 at 12:56 nm 6 Kommentaar

Older Posts


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter