Waar? Waar?

 

 

Homer het na negentien maande tydelike werk gekry.  Ver van die huis af.  Nou ja.  Enige iets is na al hierdie die tyd mos maar welkom.  Toe besluit hy dat my honde  ‘useless’ is.  Hy gaan die sekuriteitselsel wat in plek is, laat nagaan en dan maar ook die “armed response” ding doen omdat my honde so useless is.

Die dag toe die twee tegnikuste hier was, volg die twee honde my heeltyd.  Waar ek is, is hulle.  Die tegnikuste kan maar bo oor hulle klim, geen probleem.  Natuurlik, elke keer as Homer dit gesien het, moes ek hoor “Jou blerrie honde is ‘useless’.  Die alarm sal beter wees.” Ek voel elke keer lus om soos my buurvrou te antwoord met “GAAN KAK!” Maar nou ja.  Dan sal ek maar sê “Los my honde uit.”

Hy is toe voort en hulle moes terug kom om die een of ander in te stel.  Maar kyk.  Hulle het geskakel om te sê hulle is oppad.  Ek het natuurlik die hek gaan oopsluit.  Skaar binne toe vlieg die twee soos pyle uit boë uit die huis en die volgende oomblik hoor ek iets tussen ‘n piep en ‘n tjirp en ek storm agter hulle aan.  Daar hang een tegnikus soos ‘n vink aan die hek.  Arms en bene mooi in lyn en lyf geboog om sy agterent van die honde weg te kry.  My “useless” honde het nie eers geknor nie.  Net tande gewys.  Die tweede tegnikus het sy been gestaan en vryf.  Toe die “useless” honde gestorm het, het hy eenvoudig die hek toe getrek, met sy been tussen die muur en die hek.  Hy het nie eers sy kollega kans gegee om te vlug nie.  Die dat hy soos ‘n vink aan die borand van die hek hang. Gelukkig vir hom is dit ‘n stewige hek, sewe voet hoog.

My hande geklap toe staan die twee weer weerskante van my.  Ek het die mannetjie twee keer verseker dis veilig vir hom om af te klim.  Toe hy weer sekuur op terra firma gestaan het, het hy net saggies geprewel, “Joh tannie, die oom moes nou hier gewees het om te sien hoe useless die honde regtig is.

Gedagte van die dag:  “Looks” is nie alles nie.

 

Mei 4, 2017 at 10:29 nm 7 Kommentaar

Wat ‘n irritasie.

 

Voorheen het ons in die bos gewoon.  In een van net nege huise.  Ons het elf jaar daar gewoon.  Dikwels was die waterdruk so swak dat dit tot tien minute kon neem om sowat tien cm water in die bad te tap.  Van tuin natlei was daar op sulke dae natuurlik geen sprake nie.  Maar….. ons het water gehad.

In alle eerlikheid kan ek dalk sê dat ons agt dae uit die elf jaar nie water gehad het nie.  Soos in niks.  Jy draai vroegoggend die kraan oop en daar kom net ‘n druppel of twee water uit.  Dan was dit ‘n geval van, “wel, ou girl, jy woon in die bos, wat verwag jy?  Dan moes ‘n tegnikus van die buurdorp of van “hoofkantoor” af kom en teen vanaand het ons water gehad.

Nou woon ons in die dorp, daar is dan twee tegnikuste in die dorp en elke tegnikus het ‘n assistent.  So probleme behoort spoedig opgelos te wees.  Reg? VERKEERD!!!!  Nou het ons agt dae per maand nie water nie en dan hou dit meestal ‘n week of twee voordat die probleem opgelos is.  Huidiglik is ons sedert Sondag aand sonder water.  Vanmore twee uur was daar water.  Kom my afspraak met die stort, toe is die kraan droog.  Kyk die hooftegnikus ken Homer se nommer al so goed, as Homer bel en hy kan nie antwoord nie, sal hy terug bel en “Mr Oksle, I see you phoned me earlier…

Gedagte van die dag:  Ek hoop julle het ‘n menseregte dag vol genade en menseregte gehad.  😉  Soos die basiese regte wat julle elke maand voor betaal.

Maart 21, 2017 at 3:23 nm 11 Kommentaar

Aangename atjoeeee…..

 

Ek was vandag besig om kas reg te pak toe ek op ‘n heel gawe verrassing afgekom het.  Dis nie aldag dat die uwe so ‘n aangename verrassing op die lyf loop nie.  Daar staan ek toe met die reghoekige houer in my hand en weet nie so mooi wat om te doen nie.  sien, dis eintlik ‘n dilemma van epidermiese proporsies.  Daar is sestien tjokkies in die houer en ek is nie van plan om al sestien op te eet of met Homer te deel nie.  Hy sal geen probleem hê om deel op te eet nie. Maar môre begin Lent en glo my, hy sal nie aarsel om dan die oorblyfsels van my gedeelte die een na die ander te laat verdwyn nie.

 

                                                                                   verrassing

 

Dus bly daar vir my net een opsie oor.  Ek moer dit maar wegsteek tot paasfees.  Nou dat ek daaraan dink, dit was ‘n kersgeskenk aan my.  Reeds Kersfees 2015.  Ek het daardie kersfees nie minder as drie houertjies van die lekkerny gekry nie.  Geen wonder dit was maklik om een oor te sien nie.  Maar nou ja, ek is mos ‘n mededeelsame mens Ek sal ook deel, dalk met met Homer, dalk met die hele gesin.  Dalk, hou ek dit net vir my en klein Amy.  Ek dink sy behoort dit al te kan eet.

 

Gedagte van die dag: Aan almal wie dit ken en meemaak, sterkte met lent en julle voornemens.

Februarie 28, 2017 at 11:22 nm 10 Kommentaar

Hoe ry die verkoue my….

…. nies nies so, nies nies so, atjoe.

 

skouer

 

Toe ek gisteroggens nou wakker word, sopnat gesweet, nes elke vier ure sedert Sondagaand, toe weet ek, kyk, maak nie saak hoe allergies ek vir die dr is, nie, diè, is nie sommer net verkoue nie.

Kort kort het Homer gevra “het jy al afspraak gemaak by die dr.”  Julle weet wat die antwoord was.  Ek het mos net mooi beginne gewoond raak aan die dr op die buurdorp, die een wat wyd veroordeel was oor sewe operasies waarvan meestal die nasorg volgens nig Google, verkeerd gegaan het, toe peg die man.  Hy was nie bang om die verskil tussen aas en bollie aan jou uit te lig nie hoor.  In elk geval, ek loop weer wye draai.  Toe onthou ek die swart dame.  Gou eers telefoongids uitgepluk, geen nommer vir haar nie.  Sy werk dan seker nie meer hier nie.  Toe kom oom Ridder hier aan om te kom seker maak die wit bakkie het nie kom oplaai in my str nie.  Hy sê toe nee, sy kom nog gereeld dorp toe.

Ewentwel, Homer bel toe die apteker, ja nee, sy kom nog en hy kry die nommer.  Ek het gebel en was vertel sy is nou daar, as ek nou kan kom, sal sy my sien.  Ai, al die geswetery het my Donnie Osborn kappie verinnerweer.  Maar dis of sy (met kappie wat lyk of dit vban ‘n verkeerde veer hoendertjie geerf het, of ek en die medies gaan weer ‘n stewige betaling vir slegs ‘n ondersoek en ‘n pakkie R10 pille maak.  Daar gekom, kom haal die ontvangsdametjie my omtrent net uit die bakkie.  “Are you the aunty 👿 who called?”  Nou ja, Olga voel helemal te goor om te sê “Aunty se moer!”

So “aunty” loop maar saam in. Kry vreeslike vuil kyke van die ander dames en geamuseerde kyke van die  twee here, elk met ‘n koffiebeker in die hand, wat al daar sit.  Toe word ek versoek om te gaan sit.  Moes maar langs die ou baliepens gaan sit en net gehoop ek beland nie met my kop op sy skouer nie.  Toe begin die dames praat met die ontvangsdame, kwaai.  Sy gorra gorra gorra en hulle gorra gorra gorra en al wat ek verstaan is phonilê.  Be that as it may.  Dan kyk die mans na die kwaai dames, dan  na die ontvangsdame wie blykbaar nie ‘n aks toegee aan hulle kwaaipraatjies nie, dan lag hulle en kyk na my.  4kof gerus dink ek maar sê dit nie en sluit my af.

Eh.  Toe kom roep die verpleër my.  Maar kyk toe gorra gorra hulle eers. Hy het my bloeddruk, gewig, temp en suikertoets gedoen.  Toe ons uitkom gorra gorra dit vir een vaal hel.  Toe sê die gatvol ontvangsdame in Engels “She phoned for an appointment, you walk in.  So you can walk out too.” Ook maak goed ek het die teistering wat in elk geval oor my kop heen is, geïgnoreer.  Blyk toe saam met die verkoue, het ek nog ‘n infeksie in die opper-brochi  ook opgetel.  Dis nou van Homer se “boy” wees en help met die spuitverwery op die werkies wat sy kant toe kom.

Gedagte van die dag:  Daardie antibiotika en BB se uie, het die trick gedoen.  Ek het ‘n volle ses ure geslaap laasnag.  Lekker dag.

Februarie 15, 2017 at 12:37 nm 4 Kommentaar

Verkoue

                                                  verkoue

O, ellende.  Verlede jaar het ek verkoue vrygespring.  Die jaar gryp dit my met ‘n vengeance.  So vroeg ook nog.  Dis te warm om  in die bed te klim of om warm aan te trek en goed uit te sweet.

Ek het al geskinder oor mense wie nooit verkoue kry nie, maar sommer griep.  (Wat my herinner, ons moet uitvind oor die griep inspuitings.)  Maar in elk geval, ek raak lekker jaloers op daardie mense.  Hulle klim in die bed en laat die ou verkoue maar sy gang gaan.  Ek raak mos paniekerig wanneer my neus toe is.  Ek sit al behoorlik van laasnag af kierts regoop.  Ek is mos ‘n regte sissie wanneer ek verkoue kry.

Wat maak julle wanneer julle verkoue het?  Die spreekwoord sê mos “Feed a cold and starve a fever.” Maar hoe gemaak as jou mishoring te toe is om te kan eet?

Gedagte van die dag: Ek het nou ook breinleegte.

Februarie 13, 2017 at 8:22 nm 14 Kommentaar

Man van God.

 

index

As ek julle al voorheen vertel het, vra ek groot verskoning.. Julle moet weet dis nie aldag maklik om 108 te wees nie.

Oom Ridder was eendag besig om die gras te sny toe ek ‘n oproep ontvang het.  Dit was van een van ons vorige padre’s.  Hy was op die dorp en wou kom “hello” sê.  Ek het toe uitgeloop buitekant toe sodat hy my kon sien,  ons straat naam is nie eers maklik vir Engelssprekende Suid Afrikaner nie, laat staan nog van Latynse afkoms.  In elk geval, buite gekom is oom Ridder besig om die sypaadjie te tem.

Toe kom die padre onder om die draai, ek sien oom Ridder se tree word langer.  In elk geval, toe die padre weg is, toe het my my kom vertel.

 

“Olga, toe die padre onder om die draai gekom het, het ek gesien, “Dit is nou ‘n man van God.  Weet jy, hoe nader hy gekom het, hoe banger het ek geraak.  Want toe het ek die indruk gekry dat my uur geslaan het, al het ek tog goed gevoel.  Ek het gewonder, van wanneer af word moderne motorkarre ingespan.” Ek het mos genoem sy treë het langer en stadiger geword.

“Ek het nog gedink, ag jittetjie tog, my lewe kan nie klaar wees nie.  Ek moet nog……  Toe het ek agtergekom die man het net oë vir jou.  EErs wou ek bly word, maar toe het ek gedink, ‘ag jittetjie, Olga is dan nog so jonk.  Ek wou geskree het ‘Dis ek, hier is ek’ maar toe kom ek agter jy is dan niks bang nie.”

“Jy sal nooit weet hoe verlig ek die dag was nie.” Ander dag vra hy my of ek onthou.  Natuurlik het ek onthou.  Behalwe, hy het my die gesê hy het gedink sy laaste uur het geslaan of sy verwarring oor die rytuig vir sy rit nie.  In elk geval, toe vertel hy my… “Ek het die mannetjie vemôre gesien in die mall en moes jou kom vra.  Wat het verkeerd gegaan?  Hy is dan nou net ‘n gewone man.

Gedagte van die dag:  Dis maar wat lewe in SA aan mens doen, my omie.

Februarie 2, 2017 at 11:52 nm 5 Kommentaar

Ouma Mavis

Nee, ek het nie skielik ‘n ouma ryker geword nie.  My oupa’s is mos albei reeds voor my geboorte oorlede.  Hierdie een het ons geerf.  Maar nou ja.

Wel, een oggend het ek ‘n sms gekry van my buurvrou wat sê “Jou buurman oorkant die straat het nie vanmôre wakker geword nie.” Ek was nogal verbaas, die oom was al 94 maar tog so aktief.  Dan was hy in die tuin besig, dan het hy papiere op die sypaadjie opgetel, dan het die wit karretjie weer voor die hek gestaan en die omie besig om hek oop te maak.  Net die vorige middag het hy nog ewe flink uit Spar uit gekom toe ons sleepvoet daar in is.

Ewentwel, almal wie my ken, weet mos ek is nie ‘n mense mens nie.  Ek laat weet toe my kerkgenote (want hulle ken die mense) die oom is oorlede en vra as hulle gaan simpatiseer moet hulle my tog kom haal want op my eie sal ek nie daar in loop nie, maar wil ook nie die “uit” buurvrou wees nie.  As ons alleen daarheen sou gaan sou ons dalk met die verkeerde mens simpatiseer, maar dit noem ek toe maar liewers nie. Min weet ek die tannie reg langs ons wie my laat weet het die oom het nie wakker geword nie, gaan loer twee drie keer per dag daar in.  Ewentwel, toe die kerkgenote hier inval het ek en Homer toe saamgestap en ook gaan simpatiseer.

Die weduwee is ‘n swart vrou.  Die oom was nie.  (Ek sal nie verder uitwei nie)  In elk geval, die vroutjie hou my toe vir laaste.  Sy het so soort van my hand geignoreer maar toe die vriendin klaar gesimpatiseer het, het sy my hand geneem en vasgehou asof sy dit nooit weer sou laat gaan nie.  Haar woorde sal ek seker nooit vergeet nie.  Sy het in perfekte Afrikaans gesê “Ek waardeer dit regtig dat julle oorgekom het.  Die oom sou ook.  Ek weet julle is nie vir ons mense nie.” Eers het ek gedink dat dit maar net oorsig is.  Maar hoe beter ons haar leer ken het, hoe meer het ek besef sy het presies bedoel wat sy gesê het.

Anderdag het sy so ewe gesê “Mens besef nie altyd dat jy iemand net voor die kop kyk nie, nê.  Want kyk net hoe het ons ons misgis met julle.” Dis hoe ons vir Ouma Mavis geerf het.

Januarie 24, 2017 at 11:30 nm 7 Kommentaar

Older Posts Newer Posts


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter