Author Archive

‘ n Roos by enige ander naam….

 

 

So ‘n jaar of wat gelede vra ‘n vriendin my om haar Nelspruit toe toe te neem.  Op die dag, gaan laai ek haar op en ons val in die pad.  Op ‘n stadium ry ons agter ‘n ou Mercedes Benz.  Sy begin toe te giggel en hoe meer sy probeer om my te vertel wat haar so amuseer, des te meer lag sy. Uiteindelik kom dit toe uit.

Sy het so ‘n kar van haar pa geerf.  Daar in die sestigs al.  In die 80’s, na sy al getroud was, tiener kinders gehad het en drie provinsies later, het sy steeds die kar gery.  Deur dik en dun was hulle saam. Van haar kinder jare af, loop sy en die ou groen Benz ‘n pad.  Kinders skool toe geneem, sy self eksamen lokale toe gery, elke dag werk toe, wat behels vier hospitale in vier provinsies.  Daar in die 80’s sou dit beteken het elke provinsie in die land nadat Suid Wes Afrika onafhanklikheid gekry het. In elk geval, toe sy haar dogter met die donker groen kar Pretoria toe neem om haar universiteits opleiding te begin, was dit dan ook in die kar.  Hulle het glo om die fonteine sirkel agter ‘n bus aan gery.  Toe op ‘n kol, stop die bus sommer net so voor haar om passasiers op te laai en daar ry sy in die bus vas.

Lang storie kort, hulle kon alles aan die kar herstel maar moes wag vir die een of ander onderdeel om van iewers af ingevoer te word.  Tien jaar later het die kar steeds onder ‘n seil gestaan toe iemand haar ‘n aanbod gemaak het en sy die kar verkoop het.  Sy bly so lank stil dat ek aangeneem het sy is klaar met die donker groen Benz.  Toe sê sy “As daardie kar vandag se remme gehad het, sou ek ek wraggies steeds die kar gery het.  Wat noem mens nou weer die remstelsel?” Genade ek het presies geweet waarvan sy praat.  My kar het dit mos ook. Homer se bakkie ook. Dit is einste daardie remme wat my so intimideer dat ek te bang is om Ousus se kar te ry. Met my eie kar en Homer se bakkie ervaar ek geen probleem nie. Maar my voet kom nog na die rem pedaal van Ousus se kar, dan steek daardie wit skip al vier voet in haar spore vas en laat my lyk na ‘n sestienjarige wat vir die eerste keer bestuur.

Ek vertel haar toe ek kan nie onthou wat dit genoem word nie.  Haar antwoord was toe dat dit net letters is. “Net drie lettertjies.”  Ek dink want ek ken dit mos.  Toe tref dit my. “USB remme” seg ek kordaat.  “Ja”antwoord sy. “Dis wat was dit is.  USB remme.” Wel, as my Bens net USB remme gehad het, het ek haar steeds gery. Van die ongeluk tot nou het ek al drie ander karre gehad.  Maar daardie Benz sê ek jou, het gn einde gehad nie.” Ons het alles klaar gemaak, teruggekom huis toe.  Sy het uitgeklim en toe ek my kar aansluit, toe tref dit my soos ‘n voorhamer tussen die oë, nog voordat ek op die paneel sien. Toe rol my Fordjie ook en steek ook vier voet vas nes Ousus se wit skip. Dis ABS remme.

Nou ja, wat hulle ook al is, hulle stop steeds ons karre.

Gedagte van die dag:  Vergeet om te vergeet.

Januarie 16, 2020 at 12:19 nm 4 Kommentaar

Geseënde Kersfees.

Vrede, vreugde en seëning aan almal. Bly veilig.

Desember 25, 2019 at 10:38 nm Lewer kommentaar

Briewe

Een van die dae sal kinders ook vra “Wat is briewe?” Maar nou ja, in ons tyd was briewe skryf ‘n stokperdjie.  Ai ek kan amper sê ‘n lewens noodsaaklikheid.  Ons het penmaats gehad.  Sommige was naby genoeg dat ons f2f ontmoet het, ander was maar so aan en af en dan was daar darie met wie ons jare lank gekorrespondeer het. Mensig ek was nogal ‘n ywerige penmaat.

 

Toe sit ek die radio aan en daar vra die omroeper of kinders nog skryf.  Neem hulle eintlik nog ‘n pen op en skryf? Nou ja, daar sit en giggel ek toe.  Want ek onthou hoe ons sommer nog vir mekaar briefies geskryf het ook.  Onthou julle die vinger in jou ribbes of op jou skouer wat dan onder bankvlak (uit juf of mnr se ooglyn) die briefie sou aangee.  Wat jy soms net moes aangee aan die een voor jou.  Maar nou ja, briefies het ons geskryf.  Toe was dit onvermydelik dat ek die ou gediggie van st 2 sou onthou. Voordat dit ook ‘n herinnering word, deel ek dit gou.  Geniet dit.

BRIEFIES

Daar’s kinders in ons klas
Wat baie gou kan werk,
Dan sit hul briefies skrywe
So skelm, ongemerk!

Ek was nog vêr van klaar,
Toe pluk een aan my mou.
“Haai! dè Rosie!
Die brief stuur Piet vir jou?”

Juffrou neem die briefie,
Toe voel ou Piet net sleg.
Sy lees: “Gee my ‘n soen!”
Maar Piet se kop was weg!

Die klas is pap gelag.
Net Hansie voel nie bly,
Want hy’t die brief ges
Piet sal hom buite kry!

Gou eers met nig Google beraadslag, blyk dat Helena J.F. Lochner, ‘n skryfster van Afrikaanse kinderverhale, as ek dit nie mis het nie, die skrywer van die oulike gediggie is.

Gedagte van die dag: Vandag se “briewe” sien ek, het nie eers meer venstertjies nie.

Desember 1, 2019 at 2:14 nm 4 Kommentaar

Op die onderwerp van ouderdom

 

 

Meer as twee dekades gelede in my ou tuisdorp, het ek iemand geken wie by die ouetehuis gewerk het. Sy het graag vertel van die oumensies se manewales en dan altyd lekker gelag.  Ek het haar eendag vertel dis regtig ‘n steen des aanstoots vir my dat sy so lag vir die oumensies.  Haar reaksie was “As ‘n mens nie gaan lag nie, gaan jy vreeslik tjank vir wat met hulle gebeur en dit gaan  hulle ontstel.” Ek kon dit nie bra so insien nie, maar het maar so aanvaar.

Nou egter sien ek nogal in wat sy bedoel het.  Ek het onlangs vir tannie Nella gaan kuier daar in die bos.  Haar dogter het my na haar kamer geneem en gesê “Mamma kyk wie het vir jou kom kuier.” Op eerste oogopslag het sy my herken en my by naam gegroet.  Ons het so bietjie gesels toe loer haar dogter om die kosyn en sê daar is koffie in die sitkamer.  Hulle hoop om haar meer te laat beweeg sodat haar bloedsomloop sal verbeter.  Ewentwel, toe kom ek agter hoekom dit beter is om te lag vir die dinge wat hulle doen.  Die waarheid maak dan net seer.

Toe nooi sy, ‘n klein maer mensie, my, ‘n volbloed Amasone om op haar rug te spring.  “Spring Skatjie” (toe kom ek agter sy weet nie meer wie ek is nie.  Dit terwyl sy sowat dertig minute met my, Olga, gesels het.  “Spring op my rug my skatjie.  Ek sal jou mêma.” Maak nie saak hoe ek met haar argumenteer het nie, sy was reg vir die ding.  Ek het toe maar my arms om haar gesit en gesê “Laat waai.” Toe het sy so uitgelate gegil “hieeeeehaaaaa” en terwyl sy stadig gang af beweeg het, het sy gesê “Jy moet skree as ek te vinnig hardloop en jy raak bang hoor.” Toe ons in die sitkamer kom het ek die trane gevoel brand toe sy vir haar dogter en skoonseun vra “Het julle gesien hoe lekker het ek haar gemêma (abba)? Wat is jou naam nou weer?”

Nou kan ek insien hoekom die versorgers eerder lag.Net ander dag nog, was sy op en wakker.  In die tuin besig, met haar hoendertjies besig, besig om brood te bak.

Gedagte van die dag:  Ouderdom is wreed.

November 17, 2019 at 11:20 nm 7 Kommentaar

As mens ouer word.

Die afgelope skool vakansie het die kwien se familie lid en haar huisgenoot skool kinders opgepas.  Ek kan nie meer onthou hoekom nie.

Een more kom die huisgenoot hoogs ontsteld hier aan.  Sy sê die kwien se familie het gesê sy moet eerder hier kom afkoel voordat sy moord begaan.  Terwyl ek dus tee maak vra ek uit oor wat haar so omgekrap hrt.  Dis toe die dogtertjies.  Een het iets van haar sussie geneem en die sussie het omgekrap gaan kla haar sussie het haar boek gesteel. Amper het die arme “klein dief”pakslae gekry.  Die huisgenoot is bitter omgekrap want hoe de f kan die kind in haar huis steel?  Ent van die prent is toe dat die arme kind, net nege jaar oud 100 keer moes uitskryf I may not steal and lie about it.”

Toe begin die kwien se familie kla, iemand lê haar lekkergoed vas,  Dadelik sê huisgenootjie toe “It must be that little missey.” Hoe meer ons verduidelik dis maar wat kinders doen.  In alle waarskynlikheid het die dogtertjie in elk geval haar boek self verlê en beskuldig haar sussie valslik.  Maar kom wat wil, eens ‘n dief, altyd  ‘n dief.  Toe is die kinders huis toe maar steeds word haar hoogheid se lekkergoed vasgelê.  Sommer rye van haar sjokolade.  Dan sê Huisgenootjie “Its that f dog you brought home.” Nou ja, hier stem ek met haar hoogheid saam, maak nie saak hoe slim die hond is nie, sy kan nie rye sjokolade afbreek en verorber sonder om ‘n spoor of tandmerk te laat nie.

Toe kom hulle weer eendag hier aan en Huisgenootjie vra “Did I leave my rosary here?” Ek sien die twyfel of eerder ongeloof op haar gesig toe ek “nee” sê.  Met die gevolg dat ek my rekenaarsak oopmaak en my krale wys, dis spierwit en nie hare nie.  Gaan haal my handsak en keer uit.  Die glaskrale is ook nie hare nie.  Toe maak ek my laai voor haar oop en haal die rooshout gebedskrale uit, dis nie hare nie. Weer kla haar hoogheid en weer word die hond beskuldig.

Die ander dag kuier ek daar toe Homer my bel.  Iemand gaan dit en dat kom oplaai, dis klaar betaal sal ek hulle net ontvang en toesien dat hulle die regte voorwerp oplaai.  Huisgenootjie bestel toe dadelik dat Homer vir hulle “Double story”tjoklits (maw Top deck ) moet saambring.  Sondag kom hulle nie tee drink nie en die tjoklits bly lê.  Maandag maak Homer vroeg klaar en sê ons moet maar gaan aflewer.  Daar gekom, gaan maak haar hoogheid tee en ons sit en gesels op die stoep.  Sy vra toe “Did you tell Olga I caught Daisy stealing my chocolate?” Kyk, dadelik weet ek so min of meer wat moes gebeur het en ek begin al giggel.  Huisgenootjie se ore is bloedrooi en sy staar net teen die vloer vas.  Toe begin haar hoogheid vertel.  Sy het haar tjoklit doelbewus op haar bedkassie gelos en gaan tv kyk.  Toe hoor sy, die dowe met gehoortoestelle wat op daardie oomblik in ‘die houertjie onder haar kussing was, die papiere ritsel en sy sluip toe soos blits in die gang af.

Sê sy staan en loer letterlik net om die kosyn.  Daar word die eerste rytjie afgebreek, rond geloer en in die mond gedruk.  Toe blitsvinnig breek die vingertjies die tweede rytjie af en druk dit ook in haar mond.  Nou kan ek my dit net voorstel, twee rye se sjololade nog in die ry steek mos knoppe uit man.  Haar hoogheid sê sy klap toe teen die kas en vra “Whacha doing?” Sy sê die mond het eers oopgegaan daardie sjokolade rye het soos slang met twee tonge in en uit gesplits en weer amper uitgeskiet en toe weer met ‘n knop in die wang geeindig.  Toe was Huisgenootjie mooi netjies uitgevang vir die tjoklit dief wat sy is.  Maar toe rol ek al van die lag.  Toe Huisgenootjie agterkom dat daar nie verwyte kom nie, het sy haar oë verleë van die grond afgelig en gesê “Ek weet nie wat gaan met my aan nie, hoe ouer ek word, hoe meer steel ek.” Ek het haar toe gevra of sy ‘n stash het.  Ons kon sien sy wou eers “Nee” sê, maar haar toe bedink en opgestaan om ons haar wegsteekplek te gaan wys.  Toe sy die ou verblykte sakkie op haar bed omkeer, het die gebedskrale ook daar uitgeval.  Sy was soos ‘n arend op daardie krale hoor. Sy het dit teen haar bors vasgedruk en toe uitgeskarrel.

Maar die boekie wat die dogtertjie durf waag het om in haar huis te steel was darem nie daarin nie.

 

Gedagte van die dag: Ouderdom is ‘n bliksem.

 

 

 

November 8, 2019 at 4:10 nm 2 Kommentaar

That’s not my game

Lui my telefoon Saterdag oggend na parkrun.  Ek sit nog op my bed om gou my teetjies te drink voordat ek gaan stort. Ek sien dis uncle Eddie en my bloed kook.  Die veretterlike goed moet my nie krap as ek nie jeuk nie, dink ek.  “Are they bothering you again?” vra ek nadat ons gegroet het.  “Fuckit Sissie” seg hy, “they are still bothering me everyday.” Hy het al die magistraat se nommer gegee net sodat dieselfde dame hom twee ure later weer pla.  My advies is toe maar soos die magistraat sn ook.  Ignoreer hulle.  As hy ‘n nommer nie ken nie, moenie antwoord nie.

“But Sissie”sê hy “today I need your advice.”  Ai kyk.  “I’m listening, fire away.”  Hy antwoord toe ” You know how I’m always running errands for Sue?” En almal anders dink ek maar sê net “Yes”  Toe sê hy weer “today she send me to Spar and the chemist.  When I got back she said its so hot I must come in for some juice.  Well when she brought the juice she grabbed hold of my hand.” Oewie dink ek wat tog nou.  ” Well, I didnt want to be rude so I tried to loosen her grip like, you know.”  Ja ek weet antwoord ek.  “But she held on.  So she looked me in the eyes man and said ‘Eddie, weet jy hoe lus is ek al vir ‘n man?’ Fuckit Sissie, I lifted my ass so fast from that chair and buggered off.  I’m telling you man, I’m not lus for that kak again.”  Maar kyk, toe lê ek oor die bed en skree amper soos ek lag.

Twee slukke en drie hoese later kon ek darem weer my stem terug kry.  Ek het hom maar aangeraai om volgende keer dat sy hom skakel haar te vra om maar vir hom die lysie en die geld te bring en dat hy die veilgheidhek wat Homer vir hom ingesit het, gesluit moet hou terwyl hy die geld en lys neem.  Dis nou behoorlik ‘n geval van liewer Bangjan as Jannie nommer drie.

Gedagte van die dag: Een van sy ander sussies is nou darem terug so ek gee weer leër oor.

Oktober 23, 2019 at 10:50 nm 8 Kommentaar

Skooltyd!

 

 

Daar is ‘n goeie rede hoekom kinders skool gaan en teen volwassenheid klaar maak. In die tyd dat ek in Pretoria was, het my noolste Nolie, Mina en my Amy kom kuier. Toe ons besig raak om ete op te dien, wil Juffie niks weet van eetkamer nie, dis nou sit kamer toe.

Sy het in elk geval daar vir ons “gedek.” Pappa en Mamma kan maar soos barbare met skinkborde op hulle skote eet.  Vir Ouma en Ousus het sy so ewe kussings op die vloer by die koffietafel gepak en sy sit op haar pienk stoeltjie.  So eet ons en toe is dit skottelgoed tyd.  Kort kom loer sy om die kosyn of alles nog op dreef is. Toe sy dus die ketel hoor, besef sy alles is gewas, gedroog en gebêre in die kombuis.

Amy is mos nou al ‘n rukkie in die kleuterskool en ons gaan nou dus skool speel.  Daar sit Juffie op haar pienk stoel, ek en Ousus moet maar weer ons plekke op die kussings op die vloer inneem.  Ons kleur in.  Een inkleur boek, twaalf vet vetkryte en drie inkleurders.  Daar gaan ons.  Pappa en Mamma is later vort bed toe, ons drie kleur nog in.

Nou ja, ek en Ousus se “vere”is al deur gesit daar op die vloer en ons kriewel.  Mens! ek kan sweer ek voel die kruis in die teëls dwarsdeur daardie kussing. As ons so kriewel, dan kom die kwaai stemmetjie “Sit op julle boure.”Dan sit ons.  Dan oorval die kriewels ons weer en ons sit op ons knieë langs daardie koffietafel. Dan kom die kwaai stemmetjie weer “Julle, sit op julle boure.” Dan sit ons weer en ons kleur in.  Eet dan en wan ‘n lekkerdingetjie dan het ons mos geleentheid om te kriewel. Dan se juffie weer “Sit op julle boure.” Kyk, sy is net drie jaar oud maar sê daardie R.  Toegegee, dis so ‘n Engelse Franse R maar onmiskenbaar ‘n R. Teen elf uur is ons “boure”opgesit man maar al wat ons hoor is “Sit op julle boure.” Ons was nogal optimisties  dat ons dalk so twee of hoogstens drie prente gaan inkleur dan gaan sy belangstelling verloor.  Maar ai, moenie glo nie.

Van die een na die ander.  Dan soek Juffie die volgende projek uit.  As dit op albei kante interessant lyk, dan is dit die volgende prentjie. So dis rond en bont in daardie inkleurboek.  Gelukkig is die boek omtrent 2cm dik, anders het ons dit sommer die Vrydag aand klaar gemaak.  Ons, dis nou Ousus en ek het weer die kriewels terwyl sy die soveelste prent soek.  Toe sit en kyk sy vir ons en snou oor die breedte van die ou tafeltjie “Nou sit julle stil op julle gatte.”

Ek wil nou nie hoes, poep of skinder nie, maar as ek Pappa en Mamma was, het ek sommer so enige tyd by daardie skool opgedaag hoor.

Gedagte van die dag: As jy bietjie ouer is, is skoolgaan defnislis nie vir sissies nie.

Oktober 11, 2019 at 2:26 nm 4 Kommentaar

Older Posts


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter