Posts filed under ‘Uncategorized’

Afsondering of straf

Ek sidder as ek dink wat sal gebeur as die corona virus in die plakkerskampe tussen die arm mense en weerlose kinders wat op hulle eie oor die weg moet kom, sonder ‘n volwassene se sorg, sal kom.  Tog kan ek oral op sosiale media sien dat die reeds die mense van hierdie nedersettings is, wat die tuisbly reël koelbloedig verontagsaam.

Ek het vanmore’m videogreep gesien waar hulle ‘n roldeur by die een of ander Tops eenvoudig oopgedwing het en hulle self ten aanskoue van almal gehelp het.  Niemand het probeer om hulle te keer nie.  Eerder videogrepe gemaak en seker maar ook hulle self gaan help.

Maak vir my net nie sin dat ‘n supermark wat oop moet bly deur die tyd, nie sigarette mag verkoop nie.  Toe ons die anderdag ‘n vriend gewaarsku het, het hy reeds uiters verontwaardig gesê hy sal die winkel oopbreek om sy sigarette te kry.  Toe het hy gedink ons maak ‘n grap maar tog ag geslaan en met amper ‘n trollie vol sigarette by Spar uitgekom.

Dis maar die tweede dag van afsondering maar ek het alreeds die helfte van my lekkergoed voorraad opgeeet.  Ari vir my is die “isolasie”maar my daaglikse lewe.  Ek kom meeste dae nie eers by die deur uit nie en as ek wel uitkom, is dit om in die tuin te gaan werkskaf. Nou dat die president dit “afsondering”genoem het, nou pla dit my genoeg om heeldag te sit en eet.

Sterkte met julle isolasie.  Mag God met ons almal wees.

Maart 28, 2020 at 2:11 nm 1 comment

‘ n Roos by enige ander naam….

 

 

So ‘n jaar of wat gelede vra ‘n vriendin my om haar Nelspruit toe toe te neem.  Op die dag, gaan laai ek haar op en ons val in die pad.  Op ‘n stadium ry ons agter ‘n ou Mercedes Benz.  Sy begin toe te giggel en hoe meer sy probeer om my te vertel wat haar so amuseer, des te meer lag sy. Uiteindelik kom dit toe uit.

Sy het so ‘n kar van haar pa geerf.  Daar in die sestigs al.  In die 80’s, na sy al getroud was, tiener kinders gehad het en drie provinsies later, het sy steeds die kar gery.  Deur dik en dun was hulle saam. Van haar kinder jare af, loop sy en die ou groen Benz ‘n pad.  Kinders skool toe geneem, sy self eksamen lokale toe gery, elke dag werk toe, wat behels vier hospitale in vier provinsies.  Daar in die 80’s sou dit beteken het elke provinsie in die land nadat Suid Wes Afrika onafhanklikheid gekry het. In elk geval, toe sy haar dogter met die donker groen kar Pretoria toe neem om haar universiteits opleiding te begin, was dit dan ook in die kar.  Hulle het glo om die fonteine sirkel agter ‘n bus aan gery.  Toe op ‘n kol, stop die bus sommer net so voor haar om passasiers op te laai en daar ry sy in die bus vas.

Lang storie kort, hulle kon alles aan die kar herstel maar moes wag vir die een of ander onderdeel om van iewers af ingevoer te word.  Tien jaar later het die kar steeds onder ‘n seil gestaan toe iemand haar ‘n aanbod gemaak het en sy die kar verkoop het.  Sy bly so lank stil dat ek aangeneem het sy is klaar met die donker groen Benz.  Toe sê sy “As daardie kar vandag se remme gehad het, sou ek ek wraggies steeds die kar gery het.  Wat noem mens nou weer die remstelsel?” Genade ek het presies geweet waarvan sy praat.  My kar het dit mos ook. Homer se bakkie ook. Dit is einste daardie remme wat my so intimideer dat ek te bang is om Ousus se kar te ry. Met my eie kar en Homer se bakkie ervaar ek geen probleem nie. Maar my voet kom nog na die rem pedaal van Ousus se kar, dan steek daardie wit skip al vier voet in haar spore vas en laat my lyk na ‘n sestienjarige wat vir die eerste keer bestuur.

Ek vertel haar toe ek kan nie onthou wat dit genoem word nie.  Haar antwoord was toe dat dit net letters is. “Net drie lettertjies.”  Ek dink want ek ken dit mos.  Toe tref dit my. “USB remme” seg ek kordaat.  “Ja”antwoord sy. “Dis wat was dit is.  USB remme.” Wel, as my Bens net USB remme gehad het, het ek haar steeds gery. Van die ongeluk tot nou het ek al drie ander karre gehad.  Maar daardie Benz sê ek jou, het gn einde gehad nie.” Ons het alles klaar gemaak, teruggekom huis toe.  Sy het uitgeklim en toe ek my kar aansluit, toe tref dit my soos ‘n voorhamer tussen die oë, nog voordat ek op die paneel sien. Toe rol my Fordjie ook en steek ook vier voet vas nes Ousus se wit skip. Dis ABS remme.

Nou ja, wat hulle ook al is, hulle stop steeds ons karre.

Gedagte van die dag:  Vergeet om te vergeet.

Januarie 16, 2020 at 12:19 nm 4 Kommentaar

Geseënde Kersfees.

Vrede, vreugde en seëning aan almal. Bly veilig.

Desember 25, 2019 at 10:38 nm Lewer kommentaar

As mens ouer word.

Die afgelope skool vakansie het die kwien se familie lid en haar huisgenoot skool kinders opgepas.  Ek kan nie meer onthou hoekom nie.

Een more kom die huisgenoot hoogs ontsteld hier aan.  Sy sê die kwien se familie het gesê sy moet eerder hier kom afkoel voordat sy moord begaan.  Terwyl ek dus tee maak vra ek uit oor wat haar so omgekrap hrt.  Dis toe die dogtertjies.  Een het iets van haar sussie geneem en die sussie het omgekrap gaan kla haar sussie het haar boek gesteel. Amper het die arme “klein dief”pakslae gekry.  Die huisgenoot is bitter omgekrap want hoe de f kan die kind in haar huis steel?  Ent van die prent is toe dat die arme kind, net nege jaar oud 100 keer moes uitskryf I may not steal and lie about it.”

Toe begin die kwien se familie kla, iemand lê haar lekkergoed vas,  Dadelik sê huisgenootjie toe “It must be that little missey.” Hoe meer ons verduidelik dis maar wat kinders doen.  In alle waarskynlikheid het die dogtertjie in elk geval haar boek self verlê en beskuldig haar sussie valslik.  Maar kom wat wil, eens ‘n dief, altyd  ‘n dief.  Toe is die kinders huis toe maar steeds word haar hoogheid se lekkergoed vasgelê.  Sommer rye van haar sjokolade.  Dan sê Huisgenootjie “Its that f dog you brought home.” Nou ja, hier stem ek met haar hoogheid saam, maak nie saak hoe slim die hond is nie, sy kan nie rye sjokolade afbreek en verorber sonder om ‘n spoor of tandmerk te laat nie.

Toe kom hulle weer eendag hier aan en Huisgenootjie vra “Did I leave my rosary here?” Ek sien die twyfel of eerder ongeloof op haar gesig toe ek “nee” sê.  Met die gevolg dat ek my rekenaarsak oopmaak en my krale wys, dis spierwit en nie hare nie.  Gaan haal my handsak en keer uit.  Die glaskrale is ook nie hare nie.  Toe maak ek my laai voor haar oop en haal die rooshout gebedskrale uit, dis nie hare nie. Weer kla haar hoogheid en weer word die hond beskuldig.

Die ander dag kuier ek daar toe Homer my bel.  Iemand gaan dit en dat kom oplaai, dis klaar betaal sal ek hulle net ontvang en toesien dat hulle die regte voorwerp oplaai.  Huisgenootjie bestel toe dadelik dat Homer vir hulle “Double story”tjoklits (maw Top deck ) moet saambring.  Sondag kom hulle nie tee drink nie en die tjoklits bly lê.  Maandag maak Homer vroeg klaar en sê ons moet maar gaan aflewer.  Daar gekom, gaan maak haar hoogheid tee en ons sit en gesels op die stoep.  Sy vra toe “Did you tell Olga I caught Daisy stealing my chocolate?” Kyk, dadelik weet ek so min of meer wat moes gebeur het en ek begin al giggel.  Huisgenootjie se ore is bloedrooi en sy staar net teen die vloer vas.  Toe begin haar hoogheid vertel.  Sy het haar tjoklit doelbewus op haar bedkassie gelos en gaan tv kyk.  Toe hoor sy, die dowe met gehoortoestelle wat op daardie oomblik in ‘die houertjie onder haar kussing was, die papiere ritsel en sy sluip toe soos blits in die gang af.

Sê sy staan en loer letterlik net om die kosyn.  Daar word die eerste rytjie afgebreek, rond geloer en in die mond gedruk.  Toe blitsvinnig breek die vingertjies die tweede rytjie af en druk dit ook in haar mond.  Nou kan ek my dit net voorstel, twee rye se sjololade nog in die ry steek mos knoppe uit man.  Haar hoogheid sê sy klap toe teen die kas en vra “Whacha doing?” Sy sê die mond het eers oopgegaan daardie sjokolade rye het soos slang met twee tonge in en uit gesplits en weer amper uitgeskiet en toe weer met ‘n knop in die wang geeindig.  Toe was Huisgenootjie mooi netjies uitgevang vir die tjoklit dief wat sy is.  Maar toe rol ek al van die lag.  Toe Huisgenootjie agterkom dat daar nie verwyte kom nie, het sy haar oë verleë van die grond afgelig en gesê “Ek weet nie wat gaan met my aan nie, hoe ouer ek word, hoe meer steel ek.” Ek het haar toe gevra of sy ‘n stash het.  Ons kon sien sy wou eers “Nee” sê, maar haar toe bedink en opgestaan om ons haar wegsteekplek te gaan wys.  Toe sy die ou verblykte sakkie op haar bed omkeer, het die gebedskrale ook daar uitgeval.  Sy was soos ‘n arend op daardie krale hoor. Sy het dit teen haar bors vasgedruk en toe uitgeskarrel.

Maar die boekie wat die dogtertjie durf waag het om in haar huis te steel was darem nie daarin nie.

 

Gedagte van die dag: Ouderdom is ‘n bliksem.

 

 

 

November 8, 2019 at 4:10 nm 2 Kommentaar

That’s not my game

Lui my telefoon Saterdag oggend na parkrun.  Ek sit nog op my bed om gou my teetjies te drink voordat ek gaan stort. Ek sien dis uncle Eddie en my bloed kook.  Die veretterlike goed moet my nie krap as ek nie jeuk nie, dink ek.  “Are they bothering you again?” vra ek nadat ons gegroet het.  “Fuckit Sissie” seg hy, “they are still bothering me everyday.” Hy het al die magistraat se nommer gegee net sodat dieselfde dame hom twee ure later weer pla.  My advies is toe maar soos die magistraat sn ook.  Ignoreer hulle.  As hy ‘n nommer nie ken nie, moenie antwoord nie.

“But Sissie”sê hy “today I need your advice.”  Ai kyk.  “I’m listening, fire away.”  Hy antwoord toe ” You know how I’m always running errands for Sue?” En almal anders dink ek maar sê net “Yes”  Toe sê hy weer “today she send me to Spar and the chemist.  When I got back she said its so hot I must come in for some juice.  Well when she brought the juice she grabbed hold of my hand.” Oewie dink ek wat tog nou.  ” Well, I didnt want to be rude so I tried to loosen her grip like, you know.”  Ja ek weet antwoord ek.  “But she held on.  So she looked me in the eyes man and said ‘Eddie, weet jy hoe lus is ek al vir ‘n man?’ Fuckit Sissie, I lifted my ass so fast from that chair and buggered off.  I’m telling you man, I’m not lus for that kak again.”  Maar kyk, toe lê ek oor die bed en skree amper soos ek lag.

Twee slukke en drie hoese later kon ek darem weer my stem terug kry.  Ek het hom maar aangeraai om volgende keer dat sy hom skakel haar te vra om maar vir hom die lysie en die geld te bring en dat hy die veilgheidhek wat Homer vir hom ingesit het, gesluit moet hou terwyl hy die geld en lys neem.  Dis nou behoorlik ‘n geval van liewer Bangjan as Jannie nommer drie.

Gedagte van die dag: Een van sy ander sussies is nou darem terug so ek gee weer leër oor.

Oktober 23, 2019 at 10:50 nm 8 Kommentaar

Wat sê die wet

Mensig!!! Soms verdien mense om geklap te word.

Die ou oom se vrou het hom seker so twee jaar gelede verlaat.  Maar julle weet mos hoe mense is, eers het sy gegaan en ‘n lot skuld gemaak.  Nou ja, die oom kry net Sassa pensioen.  So hoe sy ‘n rekening daar op die oom se naam bekom het, sal net sy weet.  Ek het intussen gehoor sy, die vrou en die verkoopsdame by die meubel kettingwinkel was vriendinne.  Sy was die oom se tweede vrou en het self na haar huwelik met die oom nog ‘n goeie pensioen van haar vorige man ontvang.  Dus het sy nie nodig gehad om op die oom se naam te gaan koop nie.  Maar omdat sy geweet het wat sy gaan doen, het sy die rekeninge op sy naam geopen. Net so te verswaring, was die oom aangerand en het bietjie breinskade opgedoen.  Jy hoef net twee sinne met hom te praat om dit agter te kom ook.

Sedert sy vort is, sukkel die oom om die hoop skuld, meer as sy ou penioentjie, te betaal.  Maar laat niemand sê hy het nie moedig probeer nie.  Dikwels het mens hom by die een of ander winkel gesien, besig om kaste aan mekaar te sit waarvoor hy maar karig beloon was.  Maar so het die ou werkies opgehou en die oom was pleinweg geskroef.  ‘n Kennis vertel my die storie en ek raai aan “gaan gesels met die staatsaanklaer. Sover my kennis strek kan hy nie soveel skuld kry dat dit sy hele ou pensioentjie verswelg nie.”

Elke keer as die vrou my sien sal sy vertel die meubelwinkel dryf die ou oom mal.  So bel hy my gisteroggend amper in trane.  “Sissie, they are coming to take my furniture.” Daar is nou een uitweg. ” Uncle Eddie can we go to court?” Die arme ou mens is so desperaat hy sê dadelik ja.  Wel vanmore is ons toe weg landroshof toe.  Daar gekom, staan mense in ‘n ry en wag om deursoek te word om in te gaan.  Die oom is nog nie daar nie en ek verduidelik aan die wag toe ek voor kom.  Ai, sy verstaan nie my soort Ingels nie en escort my na die klerk.  Daar gekom vertel ek ek wil asseblief die staatsaanklaer sien en gebruik toe die naam wat my vriendin my gegee het.

“Follow me” kom die opdrag toe en daar rol die kolos voor my die gang af. Ek agterna.  Daar trek sy oor die nat wit teêls. Die vloerwasser skud net haar kop en sê gn woord nie. Ek probeer maar byhou maar omdat ek weet hoe de vieste Homer se vuil spore op my vloer my maak, hou ek maar aan die kant op die donker teëls.  Sy is voor my die kantoor in maar nie voordat die ou pofferhandjie uitgeskiet het om my “halt” te wys nie.

Die magistraat luister, sy kyk na die dokumente en dreigbriewe wat ek toon en sê verbaas “Maar die saak is mos al afgehandel.” Toe nie.  Hulle het die oom gister voor 10 uur al drie keer gebel toe ek hom aangeraai het om sy foon af te sit en eers na 5 weer aan te sit.  Daar is edelagbare op die foon.  Kan julle glo? Nadat sy haar aan me die meubelwinkel bestuurder geidentifiseer het, is diè onbeskof met haar.  Ook het sy nie die area bestuurder of die “legal manager” se telefoon nommer nie.  Edelagbare druk die foon dood en daar in die dokumente in agter die betrokke mens se nommer aan.  Bel, maar helaas, hy begin eers 9 uur werk.

Sy raai my toe aan om die oom se foon af te sit.  Dis ‘n ou perfienkie wat ongelukkig nie nommers kan blok nie.  Die oom moet hulle nie toegang tot sy huis gee nie, hulle mag niks neem nie en hy betaal ook geen sent meer nie.  In die saak is die winkel glo skuldig aan die “Reckless credit act” en moet voor haar kom pa staan.

Sjym sal maar sien vir hoe lank die arme oom in vrede sal kan lewe.

Gedagte van die dag: ‘n Bietjie genade sal wondere vir sy gemoed doen.

 

Oktober 3, 2019 at 1:12 nm 7 Kommentaar

Oos wes, tuis wat?

Na ses weke in die stad kom ek toe tuis.  O, wee, kan julle glo? twee spoedboetes wat vir my wag.  Wie sal nou kan glo ek, Olga wat die pad bekruip, nie net een nie, maar twee blerrie spoedboetes op dieselfde dag kry?

Om alles te kroon, kon ek nie eers uit die Fordjie klim nie, so seer was my rug.  Homer bly staan in die deur van die motorhuis, Lapman staan eenkant, lag net breë bek want hy weet sy nagte van buite slaap is nou vir eers weer verby.  Net Sussietjie probeer my uit die Fordjie help.  Na ‘n hengske gesukkel toe kom ek darem uit. Ek leer ook altyd op die harde manier.  By Alzu het ek dit oorweeg om te gaan koffie koop, maar toe besluit ek gaan maar deurdruk. Daar staan ek toe teen die muur met Sussietjie wat al ggggggend om my ronddans.  Ek kon wragtig nie eers buk om haar te vryf of ‘n ou soentjie te gee nie. Maar genade tog, Sussietjie lyk soos ‘n ongestrykte hemp.  Nie enige hemp nie, maar ‘n denimhemp wat gewas en op ‘n hopie gelos was om droog te word.  Nie ‘n borsel naby haar gewees in die ses weke wat ek weg was nie.

Wys jou net, mans kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie.  Hy sou mos nie ‘n vrou geword het as hy ‘n hareborsel deur haar gedruk het nie.  Net weer ‘n bewys “vêr van jou goed, naby jou skade.

Volgende keer as ek iewers heen moet gaan, sal Homer maar vir hom losies moet kry.  Ek los hom nie weer alleen tuis nie.  Sussietjie was nie al wat ongestryk was nie. Ek glo nie hy het ‘n besem opgetel in die ses weke wat ek uithuisig was nie.  Al my stoflappe moet ook gewas word, nadat ek dit gebruik het.

Gedagte van die dag: Toe huis het minder skoonmaak nodig.

 

September 20, 2019 at 10:39 nm 1 comment

Older Posts


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter