Posts filed under ‘Mense en hulle dinge’

Briewe

Een van die dae sal kinders ook vra “Wat is briewe?” Maar nou ja, in ons tyd was briewe skryf ‘n stokperdjie.  Ai ek kan amper sê ‘n lewens noodsaaklikheid.  Ons het penmaats gehad.  Sommige was naby genoeg dat ons f2f ontmoet het, ander was maar so aan en af en dan was daar darie met wie ons jare lank gekorrespondeer het. Mensig ek was nogal ‘n ywerige penmaat.

 

Toe sit ek die radio aan en daar vra die omroeper of kinders nog skryf.  Neem hulle eintlik nog ‘n pen op en skryf? Nou ja, daar sit en giggel ek toe.  Want ek onthou hoe ons sommer nog vir mekaar briefies geskryf het ook.  Onthou julle die vinger in jou ribbes of op jou skouer wat dan onder bankvlak (uit juf of mnr se ooglyn) die briefie sou aangee.  Wat jy soms net moes aangee aan die een voor jou.  Maar nou ja, briefies het ons geskryf.  Toe was dit onvermydelik dat ek die ou gediggie van st 2 sou onthou. Voordat dit ook ‘n herinnering word, deel ek dit gou.  Geniet dit.

BRIEFIES

Daar’s kinders in ons klas
Wat baie gou kan werk,
Dan sit hul briefies skrywe
So skelm, ongemerk!

Ek was nog vêr van klaar,
Toe pluk een aan my mou.
“Haai! dè Rosie!
Die brief stuur Piet vir jou?”

Juffrou neem die briefie,
Toe voel ou Piet net sleg.
Sy lees: “Gee my ‘n soen!”
Maar Piet se kop was weg!

Die klas is pap gelag.
Net Hansie voel nie bly,
Want hy’t die brief ges
Piet sal hom buite kry!

Gou eers met nig Google beraadslag, blyk dat Helena J.F. Lochner, ‘n skryfster van Afrikaanse kinderverhale, as ek dit nie mis het nie, die skrywer van die oulike gediggie is.

Gedagte van die dag: Vandag se “briewe” sien ek, het nie eers meer venstertjies nie.

Desember 1, 2019 at 2:14 nm 4 Kommentaar

That’s not my game

Lui my telefoon Saterdag oggend na parkrun.  Ek sit nog op my bed om gou my teetjies te drink voordat ek gaan stort. Ek sien dis uncle Eddie en my bloed kook.  Die veretterlike goed moet my nie krap as ek nie jeuk nie, dink ek.  “Are they bothering you again?” vra ek nadat ons gegroet het.  “Fuckit Sissie” seg hy, “they are still bothering me everyday.” Hy het al die magistraat se nommer gegee net sodat dieselfde dame hom twee ure later weer pla.  My advies is toe maar soos die magistraat sn ook.  Ignoreer hulle.  As hy ‘n nommer nie ken nie, moenie antwoord nie.

“But Sissie”sê hy “today I need your advice.”  Ai kyk.  “I’m listening, fire away.”  Hy antwoord toe ” You know how I’m always running errands for Sue?” En almal anders dink ek maar sê net “Yes”  Toe sê hy weer “today she send me to Spar and the chemist.  When I got back she said its so hot I must come in for some juice.  Well when she brought the juice she grabbed hold of my hand.” Oewie dink ek wat tog nou.  ” Well, I didnt want to be rude so I tried to loosen her grip like, you know.”  Ja ek weet antwoord ek.  “But she held on.  So she looked me in the eyes man and said ‘Eddie, weet jy hoe lus is ek al vir ‘n man?’ Fuckit Sissie, I lifted my ass so fast from that chair and buggered off.  I’m telling you man, I’m not lus for that kak again.”  Maar kyk, toe lê ek oor die bed en skree amper soos ek lag.

Twee slukke en drie hoese later kon ek darem weer my stem terug kry.  Ek het hom maar aangeraai om volgende keer dat sy hom skakel haar te vra om maar vir hom die lysie en die geld te bring en dat hy die veilgheidhek wat Homer vir hom ingesit het, gesluit moet hou terwyl hy die geld en lys neem.  Dis nou behoorlik ‘n geval van liewer Bangjan as Jannie nommer drie.

Gedagte van die dag: Een van sy ander sussies is nou darem terug so ek gee weer leër oor.

Oktober 23, 2019 at 10:50 nm 8 Kommentaar

Kom gou

Ai tog.  Vrydag hoor ek ‘n toeter buite die hek.  Seker maar een van Homer se klante dink ek en gaan aan met wat ek doen.  Toe besef ek Homer is nie tuis nie. Gou stap ek uit hek toe.  Daar gekom, staan iemand wat ek net van sien ken.  “Kom gou saam asseblief.”

Goeie vy!  Wat het Homer aangevang!  “Nee” sê die persoon.  “Dis nie Homer nie.  Dis Rian in die ouetehuis.  Niemand kry sin in sy kop nie. Hulle sê jy moet asseblief gou kom.”  Arrie gedorie.  Ek wil darem eers vir Homer ‘n briefie los, dat hy nie ook sy melk koud skrik nie.  Natuurlik ook die Fordjie kry.  Net toe daag Homer op.  Verduidelik die situasie aan hom en vra hom om solank vir my die Fordjie uit te trek.  “Nee nee.  Daar is nie tyd nie.  Ry saam met my, ek sal jou terug bring.”

Toe ons by die aftree-oord se hek inry, sit hulle al reg onder tannie Babs se afdak.  Ek het gou ingehol om vir haar te gaan dag sê.  Maar self daar word ek vertel ek moet nou met Rian gaan praat.  Hy lyk baie sleg.  {Hy het kanker.}  Hy wil niks weet van hulp nie.  Hy het die een gevloek. Hy het die volgende een uit sy huisie gejaag.  Hy het daardie een met ‘n ding gegooi. Ja, nou moet ek, Olga Oksel alleen daar instap. WEl kom ek om, so kom ek om. Daar gaan ek toe.  Sommer met die intrap slag, knor hy “Het die spul *&^$%^&* jou nou gebel?” “Stop jou stront.” Antwoord ek.  “Hulle gee net om.” Hy wil nie hospitaal toe nie, hy wil nie kliniek toe nie.  Hy wil nie dokter toe nie.  Hoe moet hy buitendien daarvoor betaal.  Ek bied aan om te betaal.  “Dankie, maar nee dankie.  Ek en jy weet wat my makeer.  Hoekom moet die dokter dit beaam?” Goeie punt dink ek.  Kom toe daarop neer dat hy deurmekaar is.  Hy het dae laas iets geeet, maar morfien en ander pyn meds gedrink.

“Kan ek vir jou iets maak om te eet? Of iets gaan kry?” vra ek toe hy op die eerste deel sy kop skud.  “Olga, ek het die dokter en ambulans op speeddial.” Ek belowe jou, as ek hulle nodig het, sal ek hulle sommer self bel.” Wel, ek is geen dr of verpleegster nie.  Maar sy velkleur lyk goed, sy asemhaling klink egalig.  Toe het ek geloop.  Vir hom ‘n paar eetgoedjies gaan kry en ‘n bottel lemonade.  Om ‘n lang storie kort te maak, teen aand het hy al gebel, die eetgoedjies, net tjippies en koekies, het glo wondere verrig.  Hy het vir homself ‘n eetdingetjie aanmekaar geflans.  Gaan ek toe vanmiddag Spar toe en jou waarlik, daar loop hy met ‘n trollietjie.  Onder andere ook koekies en tjippies in.  Volgens hom was dit toorgoed.  So hy sal altyd byderhand hou.

Gedagte van die dag: Net jy alleen  weet hoe jy voel

Desember 9, 2018 at 9:55 nm 7 Kommentaar

Die liewe tyd

Homer moes onlangs ‘n kwotasie gaan doen het by die ouetehuis. Hy wou hê ek moes saam, maar ek meng nie in by sy doen en late nie.  Doen net die admin.  (As ek onthou.)

In elk geval, ek was nou onder die indruk gebring dat die tannie heeltemal van die pad af is.  Sy vloek glo mense en val hulle sommer sonder rede verbaal aan.  Ek moet erken, ek het haar terloops geken, nogal dikwels in ‘n winkel of poskantoor gesien. Toe hy die deur gaan insit, dring Homer aan ek moet saam.  Ek staal my toe vir die vloekslag al sê hy die tannie het hom nog net hoflik behandel. Nou sedert my “oumensies”  weg is, gaan ek nie veel daar nie. Maar ek weet die tannie se man is intussen oorlede en sy weer getroud.  (In plein Afrikaans die oumensie vat nie kak nie.  Sy weet wat sy wil hê en hoe om dit te kry.)

 

 

Die oom vertel my sy vrou is binne, gaan sê vir haar dag.  Ek loer so rond en sien daar staan een kruk.  So as sy die eerste keer mis gooi, kan ek wegkom sonder dat ‘n kruk my in die rug gaan tref.  Daar sit sy toe, netjies uitgevat, elke haartjie op sy plek, handjies gevou op haar skoot by die deur en uitkyk. “Middag tannie Babs”groet ek. Een kyk en sy hou haar arms oop.  Ek buk, soen en druk ook maar. Toe bulder sy hier langs my oor “Homer, jou donner, kom hier.”

Toe hy so om die kosyn loer, baklei sy dadelik “Hoekom het jy my nie gesê Meisiekind is jou vrou nie?” Sy het Olga te swaar op die tong gevind en my so begin noem.

Gedagte van die dag:  Wanneer gaan ek leer?  Mens kan nie alles glo wat jy vertel word nie.

Oktober 12, 2018 at 2:19 nm 4 Kommentaar

Mêêêêns is soos ‘n skaap

Een aand stuur my noolste Nolie vir my ‘n link.  Ek maak toe oop en dis sowaar ‘n link vir regte egte grafstene in Suid Afrikaanse begrafplase.  Ek het oop gemaak en begin “soek”.  Natuurlik al wat ontslapene is wat ek geken of van gehoor het.

Ek het gesit en soek tot anderdag môre.  Aarde, maar dis eenvoudig asof my eie mense nooit bestaan het nie.  Julle sal nie glo hoe frustrerend dit is nie.  Maar ook nogal interessant.  http://graves-at-eggsa.org/ Ek vertel die volgende dag ‘n vriendin daarvan en sy sê weer dis “weird” wie doen sulk goed? Maar, sy sit ook glo “dag en nag op daardie vervlakste grave site.”Ellende op ellende, kry sy ook nie haar mense se grafstene nie.

Dit beteken egter nie ons het uit die lug geval nie, soms word grafstene onleesbaar verweer of dit breek of word gevandaliseer. Wie so nou kon dink dat so ‘n webtuiste ‘n bekoring kan inhou?

Gedagte van die dag: Nee!  Nie weer nie Olga.

September 11, 2018 at 3:57 nm 1 comment

Wat is die mens?

 

 

D. F Malherbe sê die slaap is ‘n wondersoete ding.  Maar….. Wat is die mens?  ‘n Bliksem as jy my vra.  ‘n Man het van die stad af gekom om ‘n lewe hier te probeer maak.  Later het van sy vriende bygekom.  Almal dwelm afhanklikes.  Een het altyd probeer werk kry om sy gewoonte te betaal.

Mense het egter later gatvol geraak want teen middagete wou hy al die oggend se besoldiging hê om ‘n regmaker te bekom.  Dit kom hom seker toe.  Hy werk regtig harder as wat twee donker mense sou werk en kry beslis meer gedaan.  Maar in elk geval een na die ander raak mense moeg daarvoor.  Een gastehuis eienaar het egter besonder lank met hom uitgehou.  Vir Homer gereeld kom vra om hom te gebruik as hy hulp nodig het. Die kere wat Homer hom gesoek het, was hy gewoonlik heeltemal bereid om te kom, wanneer hy klaar was met die werkie waarmee hy besig was. Dan het Homer maar elkders hulp gekry.

Telkens verdwyn hy dan ook vir ‘n maand of meer.  Maar iedergeval, hy gaan toe wragtig en besteel die gastehuis en terwyl hy besig was om die kombuis te stroop, het hy sommer vir homself ook ‘n middernagtelike ontbyt gehelp.  Maar…. hy homself het die kamera in die kombuis geinstalleer.  So die mense kon hom large and in charge op hulle rekenaar sien toe die diefstal aan die lug gekom het. So, wat is die mens?  ‘n Bliksem, as ek dit nie mis het nie.

Gedagte van die dag: Wragtig die hand gebyt wat hom die beste gevoer het.

Augustus 23, 2018 at 10:08 vm 3 Kommentaar

Afrikaans, my taal.

Kyk ons praat darem ‘n kleurryke taal.  Ek kyk mos soveel moontlik van die Afrikaans-programme op tv.  Dis nou tussen 18;00 en 20;00.  So kyk ek mos Dinsdae “Vlug uit Egipte.”

So paar weke terug hoor ek toe die woord “Gattas” kyk op van die hekelwerkie in my hande en sien die sub titel sê “Police” Nou ja, dit was die eerste keer dat ek die woord teëgekom het.  Ek het al baie name vir die polisie gehoor.  As ek nou so dink kom woorde soos “die boere,” (asof net blankes of landbouers in die mag toegelaat was) die pote,” of baie algemeen ook die”platpote,  die ore, die kôps, die faz, die mellow yellows” (was seker na aanleiding van die vangwaens se kleur destyds.  Al ry hulle nou nie meer geel vangwaens nie.  In elk geval, wat was daar nog?  “Die bloez, (dra hulle ooit nog blou?) die varke, dieners.” In Suid Afrika vandag dien hulle seker net hulleself.  Met trots ook.  Dan was daar natuurlik die onvleiende name wat ek nie eers sal noem nie.

Kan seker net in Afrikaans gebeur.  As daar nog name is, sal ek dit ook seker nog teëkom.  In ons huis was ons nooit toegelaat om plaasvervanger-name te gebruik nie.  So ek word maar nog heel dikwels verras.

Gedagte van die dag:  Die goeie ou dae.  Dis soveel slegter nou.

Augustus 1, 2017 at 10:26 nm 11 Kommentaar

Was nie ek nie

Ons was eendag in die buurdorp en nadat Homer sy goedjies gekoop het, is ons toe Pnp toe.  Toe ons daar uitkom staan die vrou langs Homer se bakkie en druk druk so ewe op die afstandbeheerder en elke keer twiet dit en ek wonder nogal het ons nou na die verkeerde bakkie gekom? Sulke ding gebeur mos nie met Homer nie, dis mos vir my geresifeer.  Die dame los toe so ‘n paar goeies.  Homer het haar vertel dis sy bakkie.  Sy was dadelik reg met ‘n gestry.  Druk toe vinnig die sleutel in die slot, seker bang ons gaan haar helder oordag uit die parkeerterrein ontvoer.  Sy het die sleutel verwoed gedraai en Homer het gevra “Mag ek?”  Terwyl hy sy sleutel aan haar gewys het.  Sy was toe meer inskiklik en het die sleutel na hom uitgehou.  Hy het gedruk en wraggies, haar bakkie was twee karre weg in die volgende ry.

So het ‘n gekuiery toe begin.  Hulle het hier aangekom die eerste keer.  Maar die tweede keer, het sy gebel en gevra of sy nou die hek moes oopblaas.  Ewentwel, hulle het die nommer omgedraai en moes toe maar taamlik verlee terug ry.  Hier aangekom, moes sy nou opsluit saam kombuis toe om koffie te maak.  Daar op die tafel, lê daar toe vyftien paar bedsokkies en veertien naamkaarte.  Sy het so geoe en geaa dat ek haar die ekstra paar gegee het.

In die sitkamer wys sy dit toe aan haar man en vertel hom hoe ” stout” ek is want ek wil nie geld vat vir die bedsokkies nie.  Toe vertel sy ons hoe sy dit mis om te hekel en sê sy sal my eendag die fyn lappe wys wat sy al gehekel het.  Ewentwel sy vertel van die truie wat sy al gebrei het en hoe sy dit mis.  Die rokke wat sy al gehekel het en hoe sy dit mis.  Toe het Homer gevra hoekom sy dit so mis.  Die antwoord was toe dat sy so “blind” is sy kan dit nie meer doen nie en sy mis dit tog so.

Good golly.  Toe ons buite kom, klim sy agter die stuur in en ek kan nie besluit hoekom ek dit interessant vind nie.  Toe hulle egter om die draai ry, sal Homer toe nou opmerk dat sy te ” blind” is om te brei en hekel maar nie te blind is om self te bestuur nie.  Arrie.  Ek mis dit tog so.

Gedagte van die dag:  Nou moet ek saam stem, ek is net te lui om te bestuur.  Ek mis dit egter glad nie.

Julie 24, 2017 at 9:51 nm 10 Kommentaar

Man van God.

 

index

As ek julle al voorheen vertel het, vra ek groot verskoning.. Julle moet weet dis nie aldag maklik om 108 te wees nie.

Oom Ridder was eendag besig om die gras te sny toe ek ‘n oproep ontvang het.  Dit was van een van ons vorige padre’s.  Hy was op die dorp en wou kom “hello” sê.  Ek het toe uitgeloop buitekant toe sodat hy my kon sien,  ons straat naam is nie eers maklik vir Engelssprekende Suid Afrikaner nie, laat staan nog van Latynse afkoms.  In elk geval, buite gekom is oom Ridder besig om die sypaadjie te tem.

Toe kom die padre onder om die draai, ek sien oom Ridder se tree word langer.  In elk geval, toe die padre weg is, toe het my my kom vertel.

 

“Olga, toe die padre onder om die draai gekom het, het ek gesien, “Dit is nou ‘n man van God.  Weet jy, hoe nader hy gekom het, hoe banger het ek geraak.  Want toe het ek die indruk gekry dat my uur geslaan het, al het ek tog goed gevoel.  Ek het gewonder, van wanneer af word moderne motorkarre ingespan.” Ek het mos genoem sy treë het langer en stadiger geword.

“Ek het nog gedink, ag jittetjie tog, my lewe kan nie klaar wees nie.  Ek moet nog……  Toe het ek agtergekom die man het net oë vir jou.  EErs wou ek bly word, maar toe het ek gedink, ‘ag jittetjie, Olga is dan nog so jonk.  Ek wou geskree het ‘Dis ek, hier is ek’ maar toe kom ek agter jy is dan niks bang nie.”

“Jy sal nooit weet hoe verlig ek die dag was nie.” Ander dag vra hy my of ek onthou.  Natuurlik het ek onthou.  Behalwe, hy het my die gesê hy het gedink sy laaste uur het geslaan of sy verwarring oor die rytuig vir sy rit nie.  In elk geval, toe vertel hy my… “Ek het die mannetjie vemôre gesien in die mall en moes jou kom vra.  Wat het verkeerd gegaan?  Hy is dan nou net ‘n gewone man.

Gedagte van die dag:  Dis maar wat lewe in SA aan mens doen, my omie.

Februarie 2, 2017 at 11:52 nm 5 Kommentaar

Leengoed is deelgoed.

Homer roep my vandag en se ‘kom lees gou hier.” Daar sit ons en giggel oor dit wat ons lees. Ek moes dit net leen om met julle te deel, al het julle seker al reeds gelees. Dit was net so snaaks, ek deel dit indien julle al bietjie vergeet het.

cow

Wat is ‘n koei

Hierdie is ‘n opstel deur ‘n laerskool leerling. Ingesluit is al die
spelfoute en dinge:

Die koei is ‘n soogdier. Hy is ook ‘n huisdier. ‘n koei is orrals.. ‘n
koei het ‘n baie Fein reik – jy reik hom oor die jele plaas. Agteraan
die koei sit die stert. An die een Kant van die stert sit die pint van
die stert wat die kwas genoem word en an die anner Kant sit die koei.
Die koei gebruik die kwas om die flieje van haar weg te hou anners Val
hulle innie melk. Vooran die koei sit die kop. Daar groei die
hoorings. Die kop hou ook die bek vas. Tissen die stert en die kop sit
die koei. Die koei is oorgetrek met ‘n beesvel. Onderan die koei hang
die melk. Om die melk te kry, maak jy die koei se bene vas. Die
agterstes. Dan sit jy onner die koei en trek die toutjie. Dan kom die
melk. As die Gras goed is, is die melk goed. As die Gras sleg is, is
die melk sleg. As die donner-weer in die lug is, is die melk weg. As
dit ‘n ou koei is, is die melk suur. Dit is baie goedkoop om ‘n koei
aan te hou want jy gee hom net eenkeer kos, Dan kou hy twee maal. Die
man van die koei is die OS. Dit lyk soos die koei maar daar hang net
nie melk aan hom nie. Om OS te se is nie ‘n vloekwoord nie. Verder
weet ek niks. Behalwe dat as ‘n koei baie stip na jou kyk, moet jy
padgee want Dan is dit ‘n bul.

Graad 5 Afrikaans Eksamen

1. Waarvoor word beesvelle gebruik?
Om die bees binne te hou

2. Wat is outobiografie?
Dis die ontstaan en geskiedenis van die motorkar

3. Noem 5 dinge wat melk bevat?
Kaas, botter en 3 koeie

4. Wat is die verlede tyd van eet?
Honger

5. Wat is die verkleinwoord van Oupa?
Kleinseun

6. Wat is die teenoorgestelde van kleinneef?
Kleinteef

7. Wat is die doel van die kies-en oogtande?
Die kiestande kou die kos en die oogtande kyk dat hulle die kouwerk
Goed doen.

8. Voltooi die volgende idioom: Hoe meer Haas…
Hoe groter haaspastei

9. Wat is die meervoud van kabeljou?
Kabeljulle

10. ‘n Sin met “ter aarde bestel…”
“Wie op ter aarde bestel so ‘n groot koek?”

11. Formule vir ‘n sirkel se omtrek:
“paai straal kordaat”

12. Wat is teenoorstaande hoeke?
Hoeke wat vir mekaar kyk

13. Waarom is die seun in die verhaal gestraf?
Omdat hy sy eie virgin van die volkslied gesing het.

14 . Wat is ‘n terminale siekte?
As jy op die lughawe siek word!

15. Vertaal in Afrikaans: “I beg your pardon?” (My favourite)
HuH?

16 . Wat noem ons iemand wat velle looi?
Onderwyser

17. Wat kry jy as jy jou melktande wissel?
Pepermenttande

Gedagte van die dag: ‘n Giggel is nie te versmaai nie.

Junie 23, 2016 at 10:02 nm 7 Kommentaar

Older Posts


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter