Die adder aan my boesem.

Maart 26, 2019 at 10:50 nm 12 Kommentaar

Onlangs bel ‘n vriendin my benoud.  Haar kinders en kleinkinders het uit die bloute opgedaag om te kuier en sy het niks lekker om aan hulle voor te sit nie.  Vra my om ‘n sjokoladekoek te bak en dan sal sy ‘n ander vriendin stuur om die koek te kom haal.  Sjap soos mieliepap sê ek toe.  Maar dis nou in die laaste aanval van afkom dat dit gebeur het.

Ek gaan google die skedule en sien die volgende dag, die dag waarop die koek afgelewer moet word, sal ons drien keer beurtkrag hê.  Dit was toe al 21:30 en ek besluit om maar eerder die koek te bak.  Dan is dit klaar.  Ons volgende aanval gaan 23:00 geloods word,  so ek sal klaar kan wees teen die tyd dat die koek uit die oond kom. Ek spring toe weg.  Koek bak nagenoeg veertig minute.  Met presies vier minute baktyd oor, raak alles donker om my.  toe trek dit my, my kombuis horlosie se battery is aant pap word.  Maar die koek behoort deur gebak te wees.  Ek steel die parrafien lamp op en ‘n kers ook.  Gelukkig is die skottelgoed gewas.  Al wat oorbly is die koekpanne en mes.  Toe is vyf minute om ek haal die koek uit, keer uit en trek die bakpapier af.  Perfek.

Was gou die panne en mes en gaan stort.  Kom terug, maak die koek met ‘n doek toe en gaan slaap.  Volgende dag versier ek die koek en die ander vriendin laat weet sy sien my oor tien minute.  Goeie geeftag.  Toe ek na die koek kyk, is dit besig om te skei.  Sonder die hof of ‘n dêm prokureur. Ek staan en wonder hoe gaan ek die skeiding keer. Dalk moet ek ‘n sosatiestokkie daardeur druk.  Vir my sou dit sjap gewees het, maar die vriendin is taai van die … ehh, toffie.  Dit sal nie deug nie.  Stuur gou vir Homer om nog kakao te gaan koop.  Ek behoort darem ‘n ander koek gebak te kry voordat die krag weer afgaan.  Wat dit veroorsaak weet ek nie, maar die boonste laag van die koek is besig om middeldeur te skeer onder my oë.  Gou die ander vriendin bel.  “Hoe laat verwag jy vir Meisie hulle terug vra ek? Die koekbesteller is haar buurvrou.  Na 16:00 kom die antwoord.

Toe kom Homer terug met die blikkie kakao en staan die ramp en beskou.  “Het jy jou vriendin laat weet vra hy.” Ek antwoord “Wat laat weet?” HY: “Dat die koek geflop het, antwoord hy.  “Dis nie ‘n flop nie, sê ek, dis ‘n verdomde katastrofe.” Maar ek kan sien hy kry so lekker, hy het groot moeite om homself in te hou.  Blerrie adder dink ek. “Ja sy weet. Meisie hulle sal buitendien eers na vier terug wees.” Wat gaan jy met die flop maak?’ Omdat hy so lekker kry, is ek sommer ergelik.  “Wat maak ‘n mens met ‘n flop? Ek gaan dit wegsmyt.” Sê ek.  Maar kyk, hy straal eintlik van geluk.

 

                                         

 

Toe vriendin net voor vier hier instap, vertel hy haar met groot lekker hoe die koek geflop het.  Dis wat gebeur as mens adders aan jou boesem koester. Sy kom in en sien die “flop”daar lê.  Ek het dit nog nie vir die honde gegee nie.  Ewentwel, net daar sê sy “F.k die honde, hulle gaan maagpyn kry.  Gee ‘n mes.” Daar sny sy die “Flop in twee. Sit helfte van wat ek gewoonlik vra op die kas neer vir haar halwe flop. Weg is sy met die heel koek en die helfte. Toe Homer weer inkom, sê hy, “is dit nie jou vriendin se selfoon wat hier lê nie?”  Weg is ek met die foon om gou vir haar te neem.  toe ek aan haar deur klop sê sy “Ek hoop nie jy het kom saam eet nie.” Ga.  Wat dink sy van my? Ek sien toe eers sy het kuiergaste.  Daar is toe nie eers krummels van haar halwe flop oor nie.

Toe raak ek ook lus vir ‘n snytjie flop. Dis mos nie meer te ver eternstyd toe nie. Toe ek weer tuis kom, het Homer so waar as bob die ander helfte alleen opgevreet.

Gedagte van die dag:  Mens kan wragtig nie jou rug op ‘n adder draai nie.

 

Advertisements

Entry filed under: Sug.

Wê pê pê pê Daardie onbetaalde rekening

12 Kommentaar Add your own

  • 1. Kanna  |  Maart 26, 2019 om 11:48 nm

    Sou jy n hele koek vir die honde gegooi het?

    Antwoord
    • 2. Olga  |  Maart 27, 2019 om 10:35 nm

      Sjokolade is nie goed vir ‘n hond nie, dus neem ek aan sjokoladekoek ook nie. Maar hulle sou darem elkeen ‘n happie gekry het,

      Antwoord
  • 3. Tannie Frannie  |  Maart 27, 2019 om 7:08 vm

    Jy is ‘n vriendin duisend – en ‘n bakster van formaat, lyk dit my. Dalk moet jy nog ‘n koek bak en dit alleen opeet, aangesien jy nie eers ‘n krummeltjie van die vorige twee gekry het nie.

    Antwoord
    • 4. Olga  |  Maart 27, 2019 om 10:36 nm

      😆 Nou dit klink na ‘;n idee. Maar eers lydingstyd en paasfees verby kry. 😉

      Antwoord
      • 5. Toortsie  |  Maart 28, 2019 om 7:17 vm

        Ek vas alle drinkgoed tydens lydenstyd. Drink net water. Dit voel vanjaar vir my of die lydenstyd langer as gewoonlik is. 😊❤️

  • 6. Toortsie  |  Maart 27, 2019 om 7:17 vm

    Dis waarvoor vriendinne daar is: Hulle red jou ego. Sjoe! Ek hoop die adder kry maagpyn.
    Ons was pas getroud en ek koop ‘n suurlemoentert vir die naweek. Eet een kleine skyfie om te proe. Toe ek weer by die tert kom, het my man die hele tert met een hou opgeëet.
    Ek neem hom vandag nog kwalik daaroor. Ek verstaan die gevoel in jou hart. 🥺

    Antwoord
    • 7. Olga  |  Maart 27, 2019 om 10:45 nm

      Ai so lekker gelag. Jy sal dan die gevoel verstaan.

      Antwoord
  • 8. Positief  |  Maart 27, 2019 om 9:35 vm

    Ek is glad nie ‘n bakster nie, maar kry so nou en dan lus vir ‘n gebakte poeding. My man en kinders het nooit daarvan gehou nie, dan eet ek die hele ding alleen op. Ek sien dit vandag nog aan my boude. Homer het jou gered

    Antwoord
    • 9. Olga  |  Maart 27, 2019 om 10:54 nm

      Vir Homer is net jellie, ingelegde vrugte en vla mos nagereg. In my boekie mag dit nagereg wees, maar dis nie poeding nie.

      Antwoord
  • 10. HesterLeyNel  |  Maart 27, 2019 om 12:47 nm

    Toe ek heelwat jonger was, het ek gereeld vir my man sjokoladekoek gebak. Hy het altyd aan die koek begin knibbel nog voordat ek dit kon versier, tot my groot irritasie. So bak ek eenkeer ‘n sjokoladekoek vir my pa en laat dit afkoel onder die kombuisvenster. Toe ek weer daar kom, is die boonste laag twee duim platter geëet. Ek het amper my man vermoor en hy sweer natuurlik blou hy was nie naby die koek nie – hy het die waarheid gepraat, want ek het die volgende oggend die katspore (bure se kat) op my vensterbank gekry. Ek word nog gereeld aan die petalje herinner, maar deesdae koop ek liewer die koek, klaar gebak en versier.

    Antwoord
    • 11. Olga  |  Maart 27, 2019 om 10:56 nm

      Baie makliker en geen skottelgoed voordat dit opgedien word nie. 😉

      Antwoord

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter

%d bloggers like this: