Die dorpie Gat

Augustus 7, 2016 at 11:08 nm 4 Kommentaar

Krap ek nou vandag deur die goed in die “kluis.” Kom toe op ‘n ou handsak van my af, gevul, met fotos en ou briewe. Onder andere ook die ou, sal mens dit ‘n opstel, grap, storietjie noem? geskrywe in my eie handskrif, agt en dertig jaar gelede. My skoonma het dit eendag vertel en of voorgedra en ek het dit afgeskryf. Ek het onlangs my skoonsusters gevra of hulle dit na haar dood tussen haar goed gevind het. Natuurlik het hulle nie geweet waarvan ek praat nie. Tog was daar ‘n hoekie van my brein wat dit nie vergeet het nie. Vir wat dit werd is…..

Die dorpie Gat.

dorpie gat

Die ou dorpie waar ek gebore is, het naby ‘n vulkaniese berg gestaan en die grond was nie so goed om op te bou nie. Al die huise het sommer inmekaar geval, daarom het die mense toe sommer in gate begin woon. As ‘n kind een jaar oud word, het sy ouers hom geleer om ‘n gat te grawe. So het elke inwoner dan sy eie gat gehad.

Die burgermeester het die grootste gat gehad. Die dokter se gat was ook groot, en hy het nogal ‘n verband daarop gehad.

Die begrafnisondernemer het so ‘n lang donker gat gehad. Die tuinier se gat was altyd vol mis. Die predikant moes hard werk om sy gat skoon te hou, want die gemeente het nie van ‘n vuilgat predikant gehou nie.

Die volksraadslid het teen die hang van die vulkaan gewoon. Daar het altyd ‘n wind deur sy gat gewaai en toe noem die mense hom windgat.
Met elke vulkaniese uitbarsting het sy gat verstop, en dan moes hy weer van voor af sy gat af werk.

Die stadsklerk het altyd in die burgermeester se gat gekruip, totdat hy gevang is. Die burgermeester se gat is toegestop en die stadsklerk is die dorp verbied.

Die bankbestuurder het daar eenkant in die harde grond gewoon. Hulle het hom ou hardegat genoem. Die posmeester se gat was altyd toegeplak met seëls. Die assuransie agent het baie rond gereis en hy het sy gat een keer ‘n week gesien.

Eendag het ‘n bottel brandewyn in die kroegman se gat gebreek, en toe was die hele dorp se mans daar om sy gat te lek. Die kunstenaar het ‘n spieël in sy gat gehad, en toe dink almal die son skyn uit sy gat. Die bakker het sy bakkery eenkant in sy gat gehad. Almal sê hys bakgat.

Die luiaard se gat was baie hoog en hy moes in en uit kruip. Almal sê hys ‘n regte ou gatkruiper. Buite die dorp was die lokasie met die een swart gat op die ander.

Die ou dorpie het ophou bestaan na een helse uitbarsting. Al die inwoners het lelik gat skoongemaak, maar nie een kon sy eie gat red nie.

Advertisements

Entry filed under: geleen.

Toeka – tokkel 27 Soektog Toeka – tokkel 28 Strik

4 Kommentaar Add your own

  • 1. snap  |  Augustus 8, 2016 om 3:06 nm

    dit verduidelik nogal n paar van die gat toevoegsel baie goed.

    Antwoord
  • 2. HesterLeyNel  |  Augustus 8, 2016 om 3:09 nm

    😀 Dit was nou ‘n storie wat ek “gatte” uit geniet het (my eie nuwe spreekwoord). Dankie vir die glimlag.

    Antwoord
  • 3. Olga  |  Augustus 8, 2016 om 9:13 nm

    Ek wonder mos altyd, hoekom een gat maar twee gate? Een glas, maar twee glase. As ek ‘n woordeboek onder oe kry, gaan maak ek altyd weer seker daarvan.

    Antwoord
  • 4. ekmyselff  |  Augustus 11, 2016 om 12:59 nm

    Oulik

    Antwoord

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter

%d bloggers like this: