Toeka Tokkel: Metamorfose

April 28, 2015 at 8:46 vm 11 Kommentaar

Scrapy, elke keer wat iemand oor versamelings wonder, dink ek weer hieraan:

Ek moes eendag ‘n tannie gou Sabie toe neem.  Die meisies was toevallig by die huis en hulle suiker toe maar saam.  Terwyl ons vir tannie Dina wag, dwaal ons maar van winkel tot winkel.  By die een winkel vol kaggelstront roep die drie manne my luidkeels.   Die drie bekoorlike padda hengelaars het seker nie geweet ‘n geraas gaan die visse verjaag nie.

Ek tel een op.  Sit hom neer. Tel nog een op.  Ai man, daar begeer ek toe.  Dis normaalweg die soort winkel wat ek vermy.  Ek vertel die meisies toe dat ek die twee (in my hande) sommer sal koop vir my versameling.  Ek onderskep toe die kyk tussen die merries.  Ousus vra geamuseerd:  “Watter versameling sal dit wees?”  “My paddas by die huis.”  Sê ek.  Sal die dames toe wragtig snork.

IMG-20150428-WA0000

Nou nie dat ek my aan twee snotkoppe steur nie, maar die snorke en agteraf gekonkel staan my nie aan nie.  Ek los die paddatjies net mooitjies daar.  Laat daardie twee maar vir hulle gatte lag.  Ons was skaars buite, toe sluit tannie Dina weer by ons aan.  Wragtig, daar wil sy die winkel in wat ons so pas verlaat het.  Asof dit nie erg genoeg is dat my eie vlees en bloed my verraai nie.  Tannie Dina het geen hulp nodig soos sy krap nie en kort voor lank roep die verraaier paddas haar ook.  Sy besluit daar en dan om dit die oom koop om tussen sy vetplante staan te maak.

Nou kyk, dit was so goed soos ‘n teken.  Wie is ek om te stry as die versameling by die huis so hard na die nuwe maatjies roep?  Ons is die winkel uit.  Tannie Dina met haar padda vir die oom, ek met my twee hengelaars.  Vir my versameling.  Natuurlik.  Die meisies giggel onderlangs en ek wonder of is die paddas dan regtig so lelik?  Ek het lanklaas ‘n ou paddatjie vir my versameling gekoop.  Laat hulle maar neersien op my nuwe paddas, dit tog myne.  Ek gaan hulle mos was en so aan.  Ek vra hulle nie om dit te doen nie.  So wat sal hulle minagting van my dierbare paddas my pla?  Ek gaan met die paddas saamleef, hulle gaan dit met per geleentheid sien.

By die huis gekom, haal ek my paddas uit die papier waarin hulle toegedraai was en krap die pryse met ‘n mes af.  Dit klou soos k . . . ja, dit klou.  Ek was die ou winkel stof van my paddas af en droog hulle sorgvuldig af.  Stap sitkamer toe om die twee here aan hulle sibbe te gaan voorstel.  Die twee merries al giggelend agterna.  Ja, giggel julle maar, dink ek.  Ons sal sien.  Hou my twee paddas uit na die ander . . .  en die woorde verstar op my tong.  Die sibbe kyk met hulle groot oë na my en die twee prinse in my hande.  Uit die veld geslaan hoor.  Almal uile.  Elke liewene ene ‘n uil.

IMG-20150428-WA0002

Nodeloos om te sê:  toe het ek ‘n uil en ‘n padda versameling.  Oor tyd het die padda versameling die uil versameling verby gesteek.  En die merries?  Hulle druk gereeld ‘n hond, slak of ‘n ding onder my neus in en vra bedees of ek dit vir my paddaversameling soek.

Gedagte vir die dag:  Ek kort 10 kaggels om vir al my paddas staanplek te gee.

IMG-20150428-WA0001

Entry filed under: Huiswerk.

Klip, Troef of truce???? Straf vir sonde deur ander gepleeg.

11 Kommentaar Add your own

  • 1. Toortsie  |  April 28, 2015 om 9:17 vm

    Laat hulle maar lag! Bou jy solank jou kaggels. 🙂

    Antwoord
  • 2. vvuureoc  |  April 28, 2015 om 9:22 vm

    Ai toggetjie.

    My swakheid is knipmesse en ek loop gereeld die pandjieswinkel na op soek na nog ‘n winskoop. et nou al genoeg om familie van 10 in gekerfde biltong te hou

    Met die oppak van die ou werkswinkel trek hul die ou sekeringskas (Fuse Cabinet) uit die stoor maar die buitekant val letterlik uitmekaar. Ek sien dadelik die laaie se ooreenkoms met ‘n drukkersbord (printers tray) en red drie van die vuilgoedhoop af. Het een vir skoonsus gegee en twee swart gespuitverf en die twakkies soos keramiekdiertjies. vingerhoede. ”metchboks” karretjies vonkprop vliegtuie ens was daarin uitgestel Ongelukkig het die nie die laaste trek oorleef nie en die inhoud is iewers in kartondosie weggesteek vir waneer ek weer ‘n plek vir hul kry.

    Okkie

    Ns ek sal bietjie ky en as ek paddas of uile sien stuur ek hulle na die familie daar by jou.

    😊kkie

    Antwoord
    • 3. Olga  |  April 28, 2015 om 2:48 nm

      😆 Jy is ‘n skat Okkie. Sou graag daardie twakkies wou sien.

      Antwoord
  • 4. Sparkle  |  April 28, 2015 om 10:35 vm

    Nou wie kan nie help om te sit en giggel as hulle hierdie lees nie. 😉

    Baie vermaaklik geskryf Olga

    Antwoord
    • 5. Olga  |  April 28, 2015 om 2:50 nm

      Groot oë is groot oë of hulle nou in padda of uil gesiggies skuil.

      Antwoord
  • 6. Kameel  |  April 28, 2015 om 10:42 vm

    Ai Olga 😆

    Antwoord
    • 7. Olga  |  April 28, 2015 om 2:51 nm

      Ons lewe almal baie vreedsaam saam. 😉

      Antwoord
  • 8. seegogga  |  April 28, 2015 om 9:49 nm

    Ek het nou lekker gelag!

    Antwoord
  • 9. HesterLeyNel  |  April 29, 2015 om 1:18 nm

    😀 Lekker gelag

    Antwoord
  • 10. scrapydotwo  |  April 30, 2015 om 7:20 vm

    Jammer jong ek kom nou eers agter dat jy geskryf het. Ek het nooit opgevolg nie want dit was net n pingback. Het die paddastorie nou rerig geniet. Wys jou net hou sterk die versameling aantrekking kan wees. Dankie vir jou deelname Sorrie weer vir die laat lees. Jy was eintlik eerste gewees.

    Antwoord

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter

%d bloggers like this: