Jan Koos

Junie 13, 2012 at 12:13 vm 6 Kommentaar

                                                 

Ek het gister heel melancholies gevoel.  Ek het myself dikwels betrap dat ek aan ‘n spesifieke mens gedink het.  Soos altyd wanneer ek hom as ‘n volwassene teegekom het, het ek gou gou gesit en giggel.

Sien, Jan Koos was ‘n hemelkind.  Hy was my beste vriendin van kinderdae af, se oom.  Ons almal het hom “Boetie” genoem.  Toe ons kinders was, was Boetie altyd daar vir ons.  Dikwels as mense hom gespot het, het hulle erge probleme opgetel.  Klippe saans op hulle huise se dakke was ook glad nie uitgesluit nie.  Ons het hom nie gespot of laar spot nie.  Man, toe ons tieners was, was ryloop ‘n algemene ding.  Goed, ryloop was uit as ons alleen iewers heen moes gaan of skool toe gegaan het.  Dan het ons trein of bus gery.  Ek hoor eintlik die kondukteur se stem wat by die treindeure uitgeskree het, “Kaapsevlakte, allllllle stasies.”  Ewentwel, dis oor Boetie wat ek wil praat.  As ons gestuur was en dus busgeld gekry het, sou om te  ryloop, beteken het dat ons  genoeg geld sou hê  vir ‘n pakkie John Rolfe 20.  Dus, moes Boetie dikwels saam geryloop het.

Motoriste het die dogters en hulle “pa” dikwels opgelaai.  In meeste gevalle het hulle hulleself voorgestel, dan het Boetie sy hand uitgesteek en gou gesê: “Jan Koos Wannepoel, oom.”  (Of tannie, hoe dit ookal sy.)  Dan sou hy ons nadat ons afgelaai was, daarop attent gemaak het dat hy lekker “koekies gebak” het oor sy naam, want natuurlik was hy nie Jan Koos Wannepoel nie.  Hy sou dikwels saam met my vriendin op ‘n Saterdag oggend by ons huis opdaag en gou gou net net my takies nie, maar ook my sussie sn kafdraf sodat ons gouer saam met hulle kon uitgaan.  As ons, my wyse ou moedertjie, my sussies en myself in die tuin geskoffel het, sou hy dikwels gesê het:  Vghou kan goffel nie.  Vghou is te swak.”  Dan het hy die vurk by ons afgeneem en ‘gegoffel’  dat onkruid, plante en bolle die wereld vol getrek het.  Ons het maar agterna geplant wat ons kon.

In die tyd dat ons kinders was, was vrugte steel ‘n trotse tradisie.  Ons sou die dag loop en bome uitkyk en die huise waar die rypste vrugte was, identifiseer.  Dan sou ons na donker die vrugte gaan pluk.  Dikwels was ons nog hard aan vrugte pluk, dan het Boetie geskree:  “Oom, antie, die kinneghs steel vghugte.”  Dan het ons gatskoon gemaak vir ‘n vale.  Toe Ousus al ‘n tiener was, het my vriendin en haar gesin weer een naweek kom kuier en vir Boetie saam gebring.  Soos altyd, het dit met baie lag gepaard gegaan.  Ai, die Sondag nadat hulle gery het, het Ousus my uitgetrap.  My vertel dat sy haar morsdood skaam omdat ek die weerlose Boetie so blatant uitlag.

Ek het eers baie kwaad geword, want ek weet dat ek nog nooit iets komies in hom gesien het nie.  Ek het hom nog nooit minder mens geag nie.  Heng, hy was ook my held.  Ek het nooit vir hom gelag nie, ek het met hom gelag.  Ek kan nie werklik verduidelik hoekom ons, toe ons volwasse was, altyd gelag het as hy by was nie.  Ek weet net, as ek nie gelag het nie, sou ek gehuil het omdat daar niks was wat enige mens kon doen om sy toestand te verander nie.  Hy was gelukkig in sy klein wereldjie.  Hoe kon ek dus kwaad wees of hartseer oor hom wees, as hy gelukkig was?

Wanneer hy die slag vir ons kwaad geword het, het hy ons altyd gewaarsku dat wanneer hy die dag sterwe en begrawe word, moes my vriendin, my sussie en ek nie om sy graf staan en huil nie.  Hy sou opspring en ons wegjaag.  Die dag van sy begrafnis, moes ek nou wragtig so staan en kners om nie in trane uit te bars vir ons ons held, ons soldaat, ons beskermer, ons Boetie, wie ons vooruit gegaan het nie. My keel en kop was dae lank agterna seer van trane  smoor. Wel, vandag sou sy verjaardag gewees het.  Hoop jy het ‘n lekker verjaardag by Liewe Jesus, Jan Koos.  Rus sag ou grote.

Gedagte van die dag:  Deel jou geluk met mense om jou.  Hou dan dop hoe dit vermenigvuldig.

Advertisements

Entry filed under: Hartsake.

Wie baklei vir die gebruiker? Volwasse manlike siklus

6 Kommentaar Add your own

  • 1. Xena Phoenix  |  Junie 13, 2012 om 10:18 vm

    EERSTE!!!!!

    Antwoord
  • 2. Xena Phoenix  |  Junie 13, 2012 om 10:19 vm

    Dit is jammer dat die onskuld van hemelkinders nie aansteeklik is nie.

    Antwoord
    • 3. Olga  |  Junie 13, 2012 om 1:25 nm

      ai, hulle word dikwels eerder behandel asof hulle aan n aansteeklike toestand ly.

      Antwoord
  • 4. Kameel  |  Junie 13, 2012 om 11:38 vm

    Ek hou sommer baie van jou Jan Koos; en die bolle wat trek soos hy spit het my ook aan die lag 😆

    Antwoord
    • 5. Olga  |  Junie 13, 2012 om 1:22 nm

      ai, hy was altyd daar vir ons. Dikwels vir ons meer werk geskep. Maar hy was suiwer goud.

      Antwoord
  • 6. gerdajansen1  |  Junie 13, 2012 om 11:33 nm

    ek se ook, mag hy salig rus.

    Antwoord

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter

%d bloggers like this: