Kiep kiep kiep

Januarie 12, 2012 at 9:13 nm 10 Kommentaar

Toe ons destyds twee slange in ‘n paar dae se tyd gekry het en dood gemaak het, het ons besluit dis tyd vir voorsorgmaatreëls. So gesê, so gedaan. Ewentwel, oom Doep het toe net die oplossing. “Kry hoenders.” Seg hy. Die ding was, waar? Omtrent almal om ons het hoenders maar niemand wil verkoop nie, want die tyd is nie reg nie, daardie een weet nie watse hen broei nie, (sowaar????) daardie een het te min ensovoorts. Nou waar dan?

Neef Mac, natuurlik. Die probleem was net, hy was too moer en gone vêr van ons af. Maar hy is mos nie verniet ‘n boer nie, en ‘n boer maak mos ‘n plan. Hy weet van iemand wie ‘n besending Swosiland (aka Swaziland) toe moet neem en die roete loop omtrent by ons agterdeur verby. Hy sal vir my ‘n paar halfwas kuikens saamstuur. Drie dae later bel die wag by die hek en sê daar is ‘n trok by die hek en die drywer wil my sien. Weg is ek hek toe. Dis toe neef Mac se kennis met die “pakkie” vir my. Soos gereël, het ek by die hek opgedaag met ‘n pot vars koffie wat ons dan in sy warmfles oorgegooi het. Baie opgewonde is ek daar weg huis toe, voor die skoolbus uit.

Nolie het uit die bus gepeul, die hek oopgemaak, maar toe hy die gehawende doos van die bakkie afgehaal het, het die bodem uitgeval en die bontste spul kuikens hol die wêreld vol. Tumi het een gil gegee en die huis ingevlug. Die bus, twee huise verder het gestop en die spul skool kinders is jillend en gillend agter die kuikens aan. Deur die bure se erf, deur hulle bure se erf, deur die volgende! Ons het toe elf gevind en in die hok wat Nolie vir hulle aanmekaar getimmer het, voor hulle aankoms, gesit. Ek het gevoel dat elf darem maar ‘n snaakse getal was om te stuur, maar aangesien dit meer was as die “paar” wat ek verwag het, was ek maar te dankbaar.

Die aand het ek neef Mac gebel en bedank hom vir die kuikens. Ek het egter ook onverskoning gevra want ek dink dat ek een kuiken verloor het. Ek het verduidelik wat gebeur het en hom vertel dat ons darem elf teruggekry het. Waarop hy geantwoord het dat ek en die spul kinders baie, maar baie goed gedoen het, aangesien hy net ses gestuur het.

Gedagte van die dag: Niemand het ooit gekla dat daar van hulle kuikens weg was nie.

Entry filed under: Staaltjies.

I’ll be a fool for you Kyk

10 Kommentaar Add your own

  • 1. Gerda. J  |  Januarie 12, 2012 om 10:50 nm

    wha ha ha haaaa. hulle het seker maar pose gehou omdat hulle eie kinders gehelp het om die kuikens te vang.

    Antwoord
    • 2. Olga  |  Januarie 13, 2012 om 12:00 nm

      Of was glad nie so op hoogte van wat in hulle hokke aangegaan het nie.

      Antwoord
  • 3. Xena Phoenix  |  Januarie 13, 2012 om 9:10 vm

    😆 😆

    Dalk het hulle gedink die valk was aan die werk. 😉 En vir al wat jy weet het hulle dalk hulle kuikens later weer opgemaak.

    Antwoord
    • 4. Olga  |  Januarie 13, 2012 om 12:01 nm

      Groot moontlikheid.

      Antwoord
  • 5. attie  |  Januarie 13, 2012 om 9:19 vm

    Wat gaan jy maak as jou kinders wegraak 🙂 Dan moet ju liewers alleen soek.

    Antwoord
    • 6. Olga  |  Januarie 13, 2012 om 12:01 nm

      😉 ek weet darem hoeveel van hulle daar is, attie.

      Antwoord
  • 7. Selene Phoenix  |  Januarie 13, 2012 om 10:55 vm

    Ha ha ha!! Volgende keer moet jy net loop en “jou” kuikens soek! 😉 What a bargain! 😀

    Antwoord
    • 8. Olga  |  Januarie 13, 2012 om 12:02 nm

      Ongelukkig is myne op die stadium die enigste hoenders hier rond Selene.

      Antwoord
  • 9. Toortsie  |  Januarie 14, 2012 om 7:31 vm

    Goeie begin vir ‘n hoenderboerdery! By my loop die hoenders die hele werf vol, en ek kry so een maal ‘n jaar ‘n paar eiers. Almal help hulleself, maar wat…

    Antwoord
    • 10. Olga  |  Januarie 14, 2012 om 8:20 vm

      my hoenders het lankal ons hoenders geword. Hulle wei oral. Van my henne spog al met 2de broeisel kuikens vir die somer.

      Antwoord

Lewer kommentaar op Olga Kanselleer antwoord

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter