Tasse vol van gister

November 23, 2010 at 1:32 vm 9 Kommentaar

As ek deur die kombuisvenster kyk, dan val my oog op die groen vw kewer van my seun en dan onthou ek, ek het ook ene gehad.  ‘n Blouetjie.  Homer het sommer twee gehad, eers ‘n oranje kewer, toe ‘n rooie.  Dan gaan my onthou verder terug, my pa het ook ene gehad.  Ook ‘n bloue.  Maar syne het die snaakse stamper (?) buffer (?) in elk geval bumper gehad.  Julle weet die bumper met die “handle bars” op.  Dit was die kar waarmee hy die graagste rond gery het.  My ma het daardie ou bosparra met ‘n passie gehaat.  Veral as hy haar iewers heen geneem het daarmee.  Dit was ook nie omdat hy moes nie, hy het op daardie stadium die een of ander Chevrolet gehad.  Ek is nie meer seker watter Chevy hy toe gehad het nie.  Maar hy het altyd ‘n Chevy gehad.  En die vw.

Soms neem die ou kewer voor die venster my sover terug dat ek die toffie appels wat my oumsie gemaak het, kan proe.  Man kyk, as jy ‘n kolletjie met jou tong skoon gelek gekry het, of jou tand deur die dop gekry het, kon jy daardie toffie die lengte van jou arm trek voordat dit afgebreek het.  My ouma was natuurlik die toffie appel koningin daardie tyd.  Wou ‘n skool bazaar hou, het hulle haar kom sien, wou die kerk of ‘n ander kerk bazaar hou, kom dit nie sonder ouma Rosey se toffie  appels wees nie.  Ek dink sy het die bestanddele self voorsien ook waarmee sy die toffie appels gemaak het.  Dit was regtig heerlik.  So dikwels het die buurdorp se skool / kerke / ouetehuise en wie ookal nog bazaar wou hou, haar ook so onder die dekmantel van donkerte kom sien sodat hulle gereelde koninginne net gehoor het dat ouma Rosey het klaar geskenk, dankie.

Ai, ek onthou ook die Marie beskuitjies wat ons in ‘n piering gesit het en kookwater oorgegooi het, dat dit so groot uitgeswel het, ons het altyd gesweer dit gaan bo oor die piering swel.  Dan het ons sommer die kondensmelk blik daaroor omgekeer en sulke dik spirale oor die beskuitjie geblaas.  As my wyze ou moedetjie die geblasery gesien het, het ons gatte natuurlik gebrand.  Maar nou ja, ons het eers goed geloer.  Een moes natuurlik kywie gehou het.  Want dit was natuurlik ook maar kompetisie wie se kondesmelkspiraal die dikste was.

My ma het die allerheerlikste speserykoek gebak.  Dit was pure plesier om met die bak te gaan wegkruip agter die hoenderhok en daardie bak blinkskoon uit te lek.  Hoekom noem mens dit uitlek?  Jou tong kom tog nooit naby die bak nie.  Maar nou ja.  Soms was dit ‘n hartseer storie as jy nou die deegbak gedeps het.  😆  dit het beteken iemand anders het die versiersel bak gekry. 

Ek ruik sommer nou ook die kalfsoog pepermente met die swartstrepe.  Eisj, ek was seker al agt jaar oud voordat ek so ‘n kalfsoog heel in my mond kon kry.  Dit was die dae toe ‘n niekerbol nog ‘n niekerbol was.  Pikswart.  Dan het hy kleur en smaak verander soos jy verder gesuig het.  Die dae toe ‘n creamy toffee nog ‘n stafie hemel was.  Jy kon maklik twee dae lank daaraan eet.  Ek moet egter erken, jy het soms ene gekry wat nie so taai soos ouma Rosey se toffie appel dop was nie.  Vir my was die sagte creamy toffee nou wragtig jackpot gewees.  Ai, daardie luilekker kinderdae wat net nie wou verby gaan nie, is tog deesdae so, maar so ver weg nê.

Gedagte van die dag:  Kinders was nog kinders toe ons nog kinders was.

Advertisements

Entry filed under: Hartsake.

Wild one Christmas forever

9 Kommentaar Add your own

  • 1. Wille Kjind q  |  November 23, 2010 om 5:21 vm

    EERSTE!!!!!!!!!!!

    Antwoord
  • 2. Olga  |  November 23, 2010 om 8:00 vm

    tweede!!
    More, more.

    Antwoord
  • 3. Xena Phoenix  |  November 23, 2010 om 8:12 vm

    Ek kan nogal dink dat ‘n Kewertjie vet pret kan wees.

    Ek is nou lus vir spesery koek, marie biscuits met kondensmelk en toffie appels.

    Antwoord
    • 4. Olga  |  November 23, 2010 om 10:10 vm

      wat van fudge, meltert en skurwe jantjies?

      Antwoord
      • 5. Xena Phoenix  |  November 23, 2010 om 2:16 nm

        Ja, dankie.

  • 6. Charms  |  November 23, 2010 om 8:26 vm

    Ek onthou my Pa het so poeierblou kewertjie gery toe ek ‘n klein dogtertjie was. Ek het altyd ‘n kombersie en kussing in die “boot” gehad – dit was my plekkie. Ons is nou besig om Kobie se ou kewer reg te maak vir Rooikop.

    Daai creamy toffee was darem lekker as jy dit eers in die son laat bak het.

    Antwoord
    • 7. Olga  |  November 23, 2010 om 10:14 vm

      die ergste van die kewer se regmaak is wragtig om bande te kry. My pa se ou skorra was ook so poeierblou.

      Antwoord
  • 8. Olga  |  November 23, 2010 om 10:12 vm

    wat van n ‘warm’ champion wilson blok? Man, jy het hom dan amper net so lank soos oumsie se toffie uitgerek voordat dit afgebreek het.

    Antwoord
  • 9. toortsie  |  November 23, 2010 om 6:46 nm

    ag olga, dit was nou weer ‘n regte olga stuk, so ‘n lekker een wat jy woord vir woord wil geniet! dankie!
    My ma het ‘n geel volksie gehad. Die grondpaaie en die enjin in die “boot” was nie lekker maatjies nie en die ou karretjie het maar probleempies gehad. eenkeer het die fanbelt gebreek. toe moes my ma haar sykouse uittrek sodat ons darem net by die huis kon kom!!

    Antwoord

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Onlangse Bydraes

Wie ruik?

website counter

%d bloggers like this: